Tien vas vir huisbraak

TIEN mense is die laaste tyd in drie afsonderlike voorvalle deur die Ladismith Polisie vasgetrek vir ver­skeie voorvalle van huisbraak.

• Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, is ’n 42-jarige man, wat na bewering aanhou steel het terwyl hy op kor­rektiewe toesig uit die gevangenis was, in die vroeë oggendure van 11 Augustus 2018 deur lede van die sigbare polisieringsafdeling vasgetrek.

Die man was in die gevangenis vir diefstal voordat hy op parool vrygelaat is.

Die man het glo inwoners van Van Wyksdorp die harnas ingejaag omdat hy in die veld weggekruip het.

Hy het na bewering hoofsaaklik kos gesteel.

• Die Ladismith Polisie het vroeër die maand volgens Cederas ook ’n deurbraak gemaak in verskeie huisbraaksake wat in die

Hoekovallei gepleeg is.
Ses verdagtes tussen 13 jaar en 21 jaar oud is in hegtenis geneem met eiendom ter waarde van R50 000 wat teruggevind is.

Die huisbrake is in Julie en Augustus vanjaar gepleeg met ruite wat gebreek is om toegang te verkry.

Onder die gesteelde items was juweliersware en skootrekenaars.

• Einde Augustus is drie verdagtes tussen 42 en 45 jaar in die vroeë oggendure in hegtenis geneem vir die besit van twee sakke met Ladismith-kaas daarin.

Cederas sê ’n wit Volkswagen Polo is tydens ’n roetine-patrollie gestop en deursoek. Die drie verdagtes het reeds in die hof verskyn.

Ladismith se stasie­bevelvoerder, lt kol Ja­kobus Marthinus, het die polisiebeamptes betrokke by die inhegte­nisnames geloof vir hul goeie werk.

“Die ontleding van die misdaadintelligensie was uitstekend,” het hy gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?