Talle honde en katte vrek aan vergiftiging

• Groot kommer op Prins Albert

Deur Marlene Malan
ONTSTELDE troeteldiereienaars op Prins Albert vrees húl hond of kat gaan die volgende slagoffer wees van dierevergiftiging – enersyds weens verspreiding deur die liggaamsweefsel en liggaams­vloeistowwe van besmette dooie diere; andersyds deur opsetlike vergiftiging.

In klaarblyklik onverwante voorvalle het eers vyf honde en ’n onbepaalde aantal katte gevrek nadat die diere die dodelike metaboliese gifstof natrium-fluoroasetaat (of “1080”) ingekry het wat op ’n woonerf aangehou is. Kort daarna egter is twee honde dood, glo nadat vergiftigde balletjies rou vleis in tuine in die middedorp gegooi is.

Die “pienk” gif wat binne-in dié vleis gevind is, is nog nie geïdentifiseer nie.

1080, wat vir jakkals- en rooikatbeheer op plase gebruik word om skape en sybokke te beskerm, word op die dorp onder streng beheer verkoop. Dit blyk dat dié gifstof by ’n dorpshuis gebêre is en dat die eienaar se eie (drie) honde, sowel as twee van ’n buurman, daardeur vergiftig is.

Die saak word ondersoek en die munisipaliteit doen tans “ ’n oorsig van die gebied om – as beheermaatreël – uit te kyk vir dooie diere”, het Anneleen Vorster, munisipale woordvoerder, by navraag gesê.

“Omgewingsgesondheid is nie die verantwoor­delikheid van ’n B-owerheid soos dié munisipaliteit nie. Dit ressorteer onder die

Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit. ’n Artikel 30-voorval is egter gerapporteer kragtens omgewingsbewarings­wetgewing.

Die voorval is ook aangemeld by die provinsiale registrateur, Jonathan Mudzunga.”

Prins Albert Dieresorg (PADS) het ’n Whats­App-waarskuwing aan inwoners oor die eerste vergiftigings “in die Laer-Markstraat-buurt, naby die nywerheidsgebied”, gestuur.

Kort hierna het die tweede vergiftigingsvoorvalle plaasgevind.

Op ’n inwonersforum op Facebook skryf ’n inwoner, Lourens Erasmus: “Ek kom met ’n swaar hart. Hier is iemand ini dorp wat honde vergiftig, gooi meatballs oor di hek of draad.” Talle Prins Alberters het dié inligting aan Die Hoorn bevestig.

Gift Moncho van die provinsiale departement landbou, bosbou en visserye het by navraag aan Die Hoorn gesê amptenare op Oudtshoorn het inligting oor die vergiftigings by die Prins Albert Munisipaliteit aangevra. “Ons het nog geen for­mele klagte hieroor van die munisipaliteit of die publiek ontvang nie. Sodra die Prins Albert Munisipaliteit en ons departement inligting hieroor het, sal ons die pad vorentoe bepaal.”

Annelie Rabie, burgemeester van die Sentraal-Karoo Distriksmunisipaliteit (SKDM) en inwoner van Prins Albert, het bevestig die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid ondersoek die eerste voorval. Volgens haar sal die departement die kwessie van die opberging van die gif hanteer, en is die karkasse van die dooie diere begrawe en nie verbrand soos wat dit veronderstel is nie.

Gerrit van Zyl, SKDM-bestuurder: munisipale gesondheid, het bevestig dat die saak ondersoek word. Volgens Van Zyl “sal ons ook se­ker maak dat die nodige aksies onderneem word om te verseker dat wetlike stappe gedoen word wat betref die verkoop en verspreiding van gifstowwe”.

Dié gif, “1080” genoem na sy produknommer, is lank hoogs omstrede. Luidens die PADS-kennisgewing word dit “as lokaas vir jakkalsbeheer” gebruik. “Daar is geen bewese teenmiddel nie. Die braaksel van diere wat die gif ingekry het, is dodelik.

Braaksel, sowel as karkasse, moet minstens een meter diep begrawe word. Die gif het ’n uit­werking op diere se senuwee- en asemhalingstelsel en veroorsaak ’n uitgerekte, pynlike dood. Let op dié tekens: Maniese gedrag, hipersensitiwiteit vir klank en lig, braking, spiersametrekkings en asem­halingsprobleme. 1080 is ook gevaarlik vir mense. Moenie dié giflokaas, vergiftigde karkasse of braaksel sonder deeglike beskerming hanteer nie. Gebruik handskoene. Raak van besmette karkasse of voorwerpe ontslae deur dit te verbrand en te begrawe.”

Dorpsleiers en inwoners het aan Die Hoorn gesê hulle is uiters bekommerd oor die gifverspreiding, soos deur voëls en katte wat met die besmette karkasse of braaksel van sterwende diere in aanraking kom – of dat vergiftigde vleis in hul tuine gegooi word.

“Ek hou my diere in die huis,” het ’n bekommerde troeteldiereienaar gesê.

• Volgens www.peta.org.au toon diere vergiftigingsimptome binne ’n halfuur ná inname. Hul lyding kan tot 48 uur duur. Die dodelike mondelinge dosis vir mense is 2 – 10 mg/kg. Die gif kan ook deur waterslote/waterweë versprei  – deur fekale besmetting, braaksel en dooie diere.

• Die Prins Albert Polisie het by monde van die woordvoerder, sers Nico April, gesê geen klag is nog by die polisie ingedien nie.

• Manie Abrahams van die provinsiale departement van gesondheid het gesê verslae is opgestel en sal beskikbaar gestel word via die departement se skakelhoof.

Be the first to comment on "Talle honde en katte vrek aan vergiftiging"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*