Swartbergpas 14 keer uit in 19 uur

• Braam pak uitdaging aan ter ere van wyle vriend

Bo is ’n foto van Braam Wannenburg (links) waar hy saam met Louis Lategan fietsry. Hy het ter nagedagtenis van Lategan, wat in Maart vanjaar ná ’n motorongeluk oorlede is, die Swartbergpas 14 keer in 19 uur uitgery. Foto onder skep Braam asem tydens die rit.

Deur Angelique Erasmus
OM die Swartbergpas op een dag 14 keer met ’n fiets uit te ry, klink hoogs onmoontlik. Maar dit is presies wat Braam Wannenburg van Oudts­hoorn op Sondag, 7 Oktober, gedoen het.

Hy het dié epiese uitdaging aangepak ter nage-dagtenis en ter ere van sy goeie vriend en fietsrymaat, Louis Lategan, wat in Maart vanjaar ná ’n padongeluk oorlede is.

Braam het die Sondag om 05:00 begin ry en die pas 14 keer op en 14 keer af gery voordat hy 19 uur later om 00:30 klaargemaak het.

Hy het altesanme 232.5 km gery en 16,1 uur op sy fiets deurgebring. Die res van die tyd het hy gerus.
In die proses het hy altesame 8876 meter se klimwerk gedoen.

Om ’n aanduiding te gee van hoe hoog dit is: die hoogste piek van Everest, wat die hoogste berg in die wêreld is, is 8 848 meter hoog.

Braam het ná die fietsrit op sy Facebook geskryf hy het nie net die berg oorwin nie, maar ook homself. “Dit was werklik by tye ’n stryd teen myself om nie op te gee nie,” vertel hy.

Volgens Braam was Lategan nie net vir hom ’n mentor nie. “Hy was ’n pa, ’n man en ’n goeie vriend gewees vir baie mense van Oudtshoorn,” het hy op sy Facebookblad geskryf.

Lategan het gereeld saam met Braam en nog ’n vriend, Hugo de Wit, die Swartbergpas uitgery, waar hul saam gelag het, en hul lief en leed en stories met mekaar gedeel het.

“Louis het my geleer oor die kuns van swaarkry, en altyd gesê: ‘As jy nie goed kan fietsry nie, moet jy kan swaarkry’, en dan het hy geglimlag. Dis ’n glimlag wat ek nooit sal vergeet van ’n man wat ek nooit sal vergeet nie.”

Braam sê vandag vereenselwig hy nie net die Swartbergpas met natuurskoon en mooi uitsigte nie, maar ook met pyn, vasbyt en oorwinning.

“Ek het geleer dat om deur te druk is nie altyd maklik nie. Maar ek is bly ek het vasgebyt. Ek sou myself nie maklik kon vergewe nie as ek opgegee het. Die gemoedstoestand wat ek tydens en ná die rit ervaar het, is iets wat ek nie kan beskryf nie.”

Braam vertel daar was ’n stadium, met nog net drie rondes oor wat hy wou opgee, maar iemand na aan hom het hom bemoedig.

Dit was al wat hy nodig gehad het om sy mikpunt te bereik.

Die verskille soorte padoppervlaktes wat hy moes ry, het die trappery vir Braam moeilik ge-maak, maar die uitsig het sy aandag van die swaarkry afgetrek. “Een ding wat ek daardie dag geleer het, is dat jou kop jou grootste vyand, maar ook jou sterkste wapen kan wees. Dit hang van af hoe jy hom gaan gebruik,” vertel hy.

Braam vertel ter voorbereiding van die rit het hy voor die tyd baie geslaap, die aand voor die tyd genoeg pasta geëet en baie water gedrink.

“Ek het tydens die rit ook gereeld vloeistof ingeneem,en ook piesangs en steak-en-grondboontjiebottertoebroodjies geëet.”

Log in with your credentials

Forgot your details?