Steeds onmin by Coronation

Ontevrede personeel buite Coronation. Foto: Christine Schoeman

Angelique Erasmus & Christine Schoeman
ONMIN tussen werknemers, voormalige bestuurs­lede en die huidige bestuurskomitee van Coronation Memorial, ’n ouetehuis op Oudtshoorn, het die afgelope week voortgeduur en Maandag kook­punt bereik toe verpleegpersoneel uitgesluit is.

Verskeie aantygings is deur inwoners en perso­neel teenoor Die Hoorn gemaak.

Daar word beweer dat ’n personeellid wat nie daartoe gemagtig is nie, vir baie van die optrede waaroor ongelukkigheid bestaan, verantwoordelik is. Dit sluit die uitsluiting van verpleegpersoneel Maandag in.

Teen Dinsdag was die verpleegpersoneel egter weer terug op hul poste.

Ander klagtes sluit in dat Coronation se telefoon al twee weke buite werking is, en dat dit in Desember ook afgesny is omdat die rekening nie betaal word nie.

Dit lei daartoe dat daar nie in krisistye gebel kan word vir ambulanse en ander noodsaaklike dienste nie.

Daar word ook beweer dat die motor wat aan die tehuis behoort, al ’n geruime tyd sonder brandstof staan en inwoners van ander vervoer gebruik moet maak om byvoorbeeld hospitaal toe te gaan of inkopies te doen.

Daar word ook beweer dat daar nie breekware, handdoeke of selfs beddegoed is nie, en inwoners hul pensioengeld moet gebruik om dit te koop.

Wanneer daar beurtkrag is, is daar na bewering geen kragopwekker om krag te verskaf vir die voorsiening van suur­stof nie.

Die Hoorn moes ook klagtes aanhoor van werknemers wat beweer dat hul oorwerk is omdat daar net twee verpleërs vir 70 bejaardes per skof aan diens is.

Werknemers het ook gesê hul glo die oplossing is ’n besoek aan Coronation deur die Departement Maatskaplike Ontwikkeling.

• Daar is tans ’n dispuut tussen die vorige bestuur­der, Clive Veldsman, en die huidige be­stuurskomitee met Veldsman wat sê die bestuurs­komitee het ’n interdik teen hom gekry ingevolge waarvan hy nie die perseel mag betree nie.

Verskeie pogings van Die Hoorn die afgelope weke om terugvoer te kry van Charles Basson, voorsitter van die bestuurs­komitee, oor die klagtes en beweringe was tever­geefs.

Basson het nie gereageer op enige boodskappe of versoeke van Die Hoorn vir reaksie op die si­tuasie by die ouetehuis nie.

Log in with your credentials

Forgot your details?