Stappe om leerders veilig te hou

Deur Liesel le Roux
Verskeie stappe word geneem om die veiligheid van die leerders van Dysseldorp Sekondêr te verseker nadat ’n leerder verlede Donderdag erg beseer is toe ’n bakleiery tussen leerders by die skool uitgebreek het.

Die leerder, Randall Arends, is Vrydagoggend uit die Oudtshoorn Hospitaal ontslaan nadat hy na die voorval in die noodeenheid van die hospitaal behandel is.

Volgens kapt Joey Strydom, bevelvoerder van die Dysselsdorp Polisie, is die hulp van die onluste-eenheid Vrydagoggend ingeroep om gemoedere van ’n groep oproerige ouers wat by die skool opgedaag het, tot bedaring te bring.

Ouers wat op hul beurt bekommerd was oor die veiligheid van hul kinders het dieselfde oggend met die skoolhoof vergader. Hy het die ouers ingelig oor van die stappe wat geneem is, soos gereelde patrollies deur die Dysselsdorp Polisie om leerders se veiligheid te verseker.

Volgens Millicent Merton, woordvoerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), het die WKOD se Safe Schools-projek ook veiligheidsbeamptes tot einde volgende week by die skool ontplooi.

Voorts is fondse deur die WKOD beskikbaar gestel om die veiligheids­heining om die skool te herstel. Dit word voortdurend deur vandale beskadig.

Merton sê die leerders wat betrokke was by die bakleiery is geïdentifiseer en dat die skool die nodige tugstappe teen hulle sal doen.

Volgens Merton wil dit voorkom of “eksterne faktore in die gemeenskap” oorspoel na die skool en of sekere lede van die gemeenskap geweld aanmoedig.

Die Hoorn het verneem dat daar steeds onrus in die gemeenskap heers.

Log in with your credentials

Forgot your details?