Sportdag laat hartseer spoor van rommel

Plastiek, polistireenhouers en drankbottels lê Vrydag in en op die oewer van die Grobbelaarsrivier op Oudtshoorn. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
’N SPORTDAG vir werknemers van alle staatsdepartemente van die ses dele van die Wes – Kaap, wat Vrydag op die De Jager Sportstadion op Oudts­hoorn plaasgevind het, het ’n slegte nasmaak gelaat toe die terrein en die aangrensende Grobbelaarsrivier in ’n vuil en morsige toestand agtergelaat is.

Dit het daartoe gelei dat die Wes-Kaapse Departement Kultuursake en Sport wat die dag aanbied, reeds besluit het om sekuriteitsmaatreëls volgende jaar te verskerp.

Die Hoorn het Vrydag en Saterdag verskeie boodskappe en foto’s van ontstelde inwoners oor die toestand van die terrein ontvang, veral in die lig daarvan dat die Grobbelaarsrivier onlangs op Erfenisdag deur ’n groep vrywilligers van die dorp skoongemaak is. Van die foto’s wys hoe inwoners rommel in die rivier begin optel het.

Leë drankbottels, plastieksakke en polistireen-kospakkies het Vrydag oral rondgelê.
Verlede jaar was die sportterrein net so vuil na dié jaarlikse sportdag wat bekend staan as die Eden Better Together Games.

Die sportdag se doel is om fisieke gesondheid en spanbou te bevorder. Volgens die webblad van die Wes-Kaapse Regering het amptenare meege­ding in sokker, rugby, krieket, atletiek, fietsry, veerpyltjies, skaak en dominoes, met veral die Onderwysdepartement, die Gesondheidsdepartement, die Infanterie­skool en die SAPD wat sterk verteenwoordig was.

Volgens Tania Colyn, hoof van kommunikasie vir die departement van Kultuursake en Sport, is die sportdag ’n alkoholvrye geleentheid.

“Alle komiteelede sowel as deelnemers is daarvan in kennis gestel,” sê Colyn.

Sy sê daar is gepoog om toegang tot die geleent­heid te beperk, maar dit het geblyk dat lede van die publiek wel toegang verkry het.

Colyn sê hoewel die Wes-Kaapse Regering ver­antwoordelik is vir hul werknemers, is hul vennote in dié sportgeleentheid verantwoordelik is vir hul eie werknemers.

“Daar is ook ’n sekuriteitsmaatskappy aangestel om toegang en aktiwiteite te moniteer, maar in die toekoms sal daar beslis strenger maatreëls toege­pas word om te verseker dat reëls nagekom sal word.”

Volgens Colyn het die Oudtshoorn Munisipaliteit, wat ’n vennoot in die geleentheid was, die terrein die volgende oggend opgeruim.

Log in with your credentials

Forgot your details?