Sewe skote klap glo in middedorp

Uniestraat op Oudtshoorn. (Google Maps)

Deur Liesel le Roux
’N POLISIEBEAMPTE van George wat Sondag in die vroeë oggendure na bewering ’n aantal skote met sy dienswapen in die middedorp van Oudtshoorn afgevuur het, het dit volgens sy ver-klaring uit self­verdediging gedoen,” sê Sontaga Seisa, waarnemende woordvoerder van die Onaf-hanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod).

Die polisiebeampte wat van diens was, is na bewering omstreeks 03:10 by sy motor in Uniestraat deur mense van onder meer sy selfoon, beursie met kontant, bankkaarte, sy SAPD-ID en vuurwapenpermit beroof waarna ’n bakleiery ontstaan wat tot die skietvoorval gelei het.

Uniestraat is ’n smal straatjie wat tussen Fish on Main en Rage (oorkant Woolworths) uit Hoog-straat loop.

’n Man is tydens die skietery in sy maag getref en weens die erns van sy toestand dieselfde nag na die George Hospitaal oorgeplaas.

Die man wat gewond is, is ’n inwoner van Oudtshoorn.

Sy naam en die naam van die polisiebeampte is aan Die Hoorn bekend, maar word in hierdie stadium weerhou terwyl die ondersoek steeds aan die gang is en niemand al in verband met die voorval in die hof verskyn het nie.

Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid, was die toestand van die gewonde man vandeesweek stabiel.

Seisa sê die polisiebeampte en ’n vriend het na bewering gereeld ’n klub op Oudtshoorn besoek.

Hy was na verneem word vroeër die aand in Club Fantasy, ’n kuierplek skuins oorkant Unie­straat.

Daar word voorts deur mense wat sê dat hulle die aand in die klub was, beweer dat die man wat raakgeskiet is, ná die skietvoorval na die klub teruggehardloop het.

Volgens Seisa het die polisiebeampte gesê die man wat raakgeskiet is, het probeer om hom te beroof. Hy het die aanvaller en die ander by hom gewaarsku hy is ’n polisieman en ’n skoot in die lug afgevuur.

“Hy het van die aanvallers weggehardloop wat hom agterna gesit het.

“Die polisiebeampte het toe ses skote op hulle geskiet, waartydens een van hulle in die maag gewond is.”

Die polisiebeampte se ’n vuurwapen is op die toneel as bewysstuk ingedien. Die polisiebeampte het ook

’n klag van aanranding en poging tot roof ingedien teen die skietslagoffer en die ander persone wat hom aangerand het.

Seisa sê daar word egter nie ’n saak van poging tot moord ondersoek nie omdat die slagoffer aan-gedui het dat hy dit nie in hierdie stadium wil doen nie en eers met sy regsverteenwoordiger wil praat.

Niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die eienaar van Club Fantasy, Breyten Bredenkamp, wou nie met Die Hoorn oor die voorval praat nie.

• Sondagoggend se skote wat geklap het, is die tweede skietvoorval in drie weke op Oudtshoorn.

Inwoners het vandeesweek ontsteld gereageer op die twee skietvoorvalle so kort ná mekaar op die rustige, plattelandse dorp.

’n Man het die aand van Woensdag, 19 Junie, in Draaistraat in Oudtshoorn-Noord twee skote in die rigting van ’n vrou in haar huis afgevuur.

Die vrou is nie getref nie. Die skieter is steeds op vrye voet.

Log in with your credentials

Forgot your details?