Seuntjie sterf onder bakkie

La Shaun Esau, wat ’n groot diereliefhebber was, by ’n bokkie. Foto verskaf

Deur Deon Meyer
’N OUPA en ouma van Ladismith is gebroke nadat hul vierjarige kleinseun verlede Dinsdag (27 Augustus) gesterf het toe hy by die huis deur sy oupa raakgery is. Abraham en Alvira Esau se kleinseun, La Shaun, is sedert hy agt maande oud was deur sy grootouers grootgemaak en het by hulle in die huis gewoon.

“Ek het seker gemaak niemand was agter die bakkie nie, want ek het ’n trek gery,” het Abraham aan Die Hoorn vertel. “Met die agteruitry het ek net gehoor mense skreeu: ‘Pasop, die kind is agter die bakkie!’

Maar dit was reeds te laat.

“Ek het gestop en self met my kleinkind na die plaaslike hospitaal gejaag. By die hospitaal het die dokter en verpleegsters hul bes gedoen om sy lewe te red, maar hulle het die stryd verloor.”

La Shaun se ma, Anna-Marie, wat in Kaapstad werk, sê dat sy geen wrok teen haar pa koester nie, omdat sy weet watter hegte band daar tussen hulle twee was.

“Ek is geen moordenaar nie,” het Abraham ge­snik. Hy vertel La Shaun het sy liefde vir sy diere gedeel en dat hulle twee baie goeie tye saam by die diere deurgebring het.

Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

Die Ladismith Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Log in with your credentials

Forgot your details?