Senior weermagoffisiere weer vlugtig in hof

Kol Nkhabu Nthejane en brig gnl Xolani Mankayi groet die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, tydens die Infanterieskool se Vryheid van die Stadparade in Oudtshoorn op Vrydag, 26 Oktober. Foto: Garnett Wicomb

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen twee senior weermagoffisiere wat tereg staan op klagtes dat hulle die Oudts­hoorn Polisiekantoor wou opblaas en die polisie in die uitvoering van hul pligte verhinder het, is op Vrydag, 26 Oktober, weer ’n keer uitgestel.

Brig gnl Xolani Mankayi en kol Nkhabu Nthejane, albei voormalige bevelvoerders van die Infanterie­skool op Oudtshoorn, het na bewe­ring in Mei 2016 soldate in gepantserde voertuie na die Oudtshoorn Polisiekantoor laat opruk.

Hulle het glo ook gedreig om die polisiekantoor op te blaas indien die sowat 35 soldate wat vroeër die dag by ’n kuierplek in Bongolethu in hegtenis geneem is, nie onmiddellik vrygelaat word nie.

Die verhoor van die twee senior weermagoffisiere was in ’n ge­vor­derde stadium toe die voorsittende beampte, streeklanddros Mark van Wyngaardt, in November verlede jaar gesterf het.

Dit is daarna as ’n nuwe saak op die hofrol geplaas.

Die staatsaanklaer het by die jongste verskyning die hof meegedeel dat nuwe vertoë wat die twee beskul­digdes gerig het nog nie op haar tafel beland het nie en sy dus nie daarop kan reageer nie.

Streeklanddros Retha Pretorius het daarna die saak tot 26 November uitgestel.

Log in with your credentials

Forgot your details?