Saak teen twee oud-bevelvoerders teruggetrek

Deur Garnett Wicomb
HY is baie verlig en kan nou ’n slag op sy werk fokus.

So het kol Nkhabu Nthejane, ’n voormalige bevelvoerder van die Oudtshoorn Infanterieskool, Dinsdag buite die Oudtshoorn Landdroshof gesê nadat die staat die saak teen hom en nog ’n oud-bevelvoerder van die skool, brig gnl Xolani Mankayi, na byna drie jaar teruggetrek het.

Nthejane en Mankayi het tereg ge­staan op klagtes dat hulle die Oudts­hoorn polisiestasie wou opblaas en die polisie verhinder het in die uitvoe­ring van hul pligte.

Hulle het na bewering in Mei 2016 soldate in gepantserde voertuie na die Oudtshoorn Polisiekantoor laat opruk en gedreig om die stasie op te blaas indien sowat 35 soldate wat by ’n kuierplek in Bongolethu in hegtenis geneem is, nie onmiddellik vrygelaat word nie. Die soldate is nog dieselfde aand vrygelaat.

Die saak was al in ’n gevorderde stadium van verhoor toe streeklanddros Mark van Wyngaardt in November 2017 oorlede is en dit daarna as nuwe saak op die hofrol geplaas is. Vertoë wat tot die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) gerig is om die saak van die hofrol te verwyder, was onsuksesvol met die beslissing dat die verhoor moet voortgaan.

Streeklanddros Retha Pretorius het die saak in Januarie vanjaar vir ’n week se verhoor, van 8 tot 12 April 2019, uitgestel.

Die twee beskuldigdes het intussen verdere vertoë tot die DOV gerig wat nou beslis het dat die klagtes teruggetrek word.

Log in with your credentials

Forgot your details?