Saak teen Donson wag tot 5 Augustus

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen Johnny Donson (37) wat daarvan aangekla word dat hy met sy voertuig oor ’n man gery en daarna van die toneel weggery het, is in die Oudtshoorn Streekhof as gevolg van ’n vol hofprogram tot 5 Augustus 2019 uitgestel.

Donson staan tereg op klagtes van moord en versuim om hulp aan ’n beseerde te verleen.
Ricardo Fourie (43), alombekend as Carthy, het ’n paar dae ná die voorval in die Grootte Schuur Hospitaal aan sy beserings beswyk. Hy is op 5 Januarie 2018 in Swawellaan, Bridgton raakgery.

Donson is twee dae na die voorval in hegtenis geneem op ’n klagte van poging tot moord, maar die klagte is na Fourie se dood omskep in een van moord. Hy het met sy borgaansoek aangedui dat hy onskuldig sal pleit.

Volgens die staatsaanklaer, Hyron Goulding, beskik die staat oor verklarings van 12 staatsgetuies, maar sal almal nie geroep word nie.

Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.

Donson se borgtog van R500 is verleng.