Reservoir waarskynlik binnekort uit bedryf gehaal

Een van die plekke waar die Ou Oos-reservoir op Oudtshoorn lek en as gevolg waarvan die reservoir tydelik uit bedryf gehaal gaan word.  Foto verskaf

Deur Liesel le Roux
DIE Ou Oos-reservoir naby die Oudtshoorn Ge­vangenis gaan waarskynlik binnekort tydelik uit bedryf gehaal en leeggemaak word sodat raad­gewende ingenieurs die binnekant daarvan kan inspekteer.

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het die afgelope week geantwoord op verskeie waterverwante na­vrae van Die Hoorn. Die Hoorn het ook met Johan Uys, bestuurder grootmaatwater by die munisipaliteit, gesels om duidelikheid oor sekere tegniese kwessies te verkry.

Uit die inligting blyk dit dat daar tans lekplekke by twee reservoirs op die dorp is – die Ou Oos-reservoir en die Ou Wes-reservoir waar ’n lekplek in die vloer is.

Die grootste probleem is egter by die Ou Oos-reservoir waar ’n strukturele fout veroorsaak dat water op verskillende plekke naby die fondament na buite sypel. Ook die vloer van die reservoir aan die binnekant is in ’n baie swak toestand.

By die Ou Oos-reservoir is ’n kraak in die wal van die reservoir ontdek wat vanaf die onderkant van die reservoir tot reg bo loop.

Waar aanvanklik gehoop is dat die reservoir van buite herstel sou kon word, sal die reservoir nou binne en buite deur raadgewende ingenieurs ondersoek word sodat bepaal kan word of dit wel herstel kan word en of ’n ander reservoir eerder gebou sal moet word.

Volgens Uys is die reservoir so ’n belangrike komponent van Oudtshoorn se waterverspreidingstelsel dat dit nie summier net uit bedryf gehaal kan word nie. Pypbreuke en/of watertekorte kan daardeur veroorsaak word.

Die tegniese department van die munisipaliteit is tans besig met ondersoeke en toetse rakende die drukbeheer, vlakbeheer en vloeibeheer sodat die reservoir veilig uit bedryf gehaal kan word.

“Die hi­droulika is kompleks en die ondersoe­ke en waar­skynlike vervangings van komponente word nie net by die reservoir gedoen nie, maar ook by die drukbeheermeganismes op die toe­voerlyn bo in Schoemanshoek. Dié ondersoeke en vervangings neem tyd en komponente soos kleppe wat vervang moet word, is duur. Intussen is die bedryf van die reservoir aangepas sodat daar so min as moontlik waterverlies is.”

Wanneer die reservoir leeggeloop het deur gebruik van inwoners en omdat water nie meer van­uit die Raubenheimerdam aangevul word nie – sal water in pype verby dit gevoer word om ’n onderbreking in watertoevoer na die dorp te verhoed.

Oudtshoorn se water is ook “kalkhonger” wat tot gevolg het dat dit sement oor jare kan vernietig wat tot skade in die dorp se reservoirs kan lei Dit veroorsaak ook skade aan die ou asbes-sementpype wat dekades gelede in die dorp geïnstalleer is.
Uys sê die munisipaliteit beoog om die ou pype geleidelik te vervang, maar dat dit geruime tyd sal duur omdat dit ’n duur projek is.

Vanjaar is R1 miljoen daarvoor begroot, maar die jaarlikse bedrag sal na verwag­ting toeneem soos daar vordering gemaak word met die finansiële herstelplan van die dorp.