R500-beloning na diefstal van R18 000 se vliegduiwe

’n Ontstelde Shawn Botha verlede Donderdag by sy duiwehok waarby twee keer ingebreek is.  Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
SLEGS agt van sowat 51 vliegduiwe wat verlede week op twee opeenvolgende aande uit hul hokke in ’n erf in Badenhorststraat op Oudtshoorn gesteel is, is die week teruggevind.

Shawn Botha, die eienaar van die duiwe, sê nadat ’n beloning van R500 uitgeloof is vir inlig-ting en Die Hoorn op Facebook berig het, het twee kinders Dinsdag vir hom een van sy duiwe terug-gebring. Botha en die Polisie het daarna nog sewe duiwe in Dertiende Laan gevind.

Botha sê hy kon sy duiwe uitken aan die ringe om hul bene. Die ander duiwe is egter nog soek.

Die eerste inbraak by Botha se hokke was Woensdagnag (5/6 Desember) toe sowat 36 duiwe gesteel is.

Nog 15 duiwe is Donderdagnag (6/7) Desember gesteel.

Dié skade word konserwatief op R25 000 beraam.

Botha, wat al tien jaar met duiwe boer, was verlede week sigbaar onsteld toe hy met Die Hoorn gepraat het.

Volgens hom kom dit voor of die dief of diewe toegang tot die erf verkry het deur die doringdraad bo-op die muur so vas te bind dat ’n klein opening gevorm word waardeur iemand kon klim, moontlik selfs ’n kind.

Botha wat twee hokke met onderskeidelik vliegduiwe en broeipare het, sê baie van die duiwe wat gesteel is, was sy eie kuikens wat hy grootgemaak het. “Ek wil hulle net terughê. Ek weet nie of hulle kos kry en of hulle oukei is nie,” het hy gesê.

Volgens hom het sy bure met die eerste diefstal omstreeks 23:20 honde erg hoor blaf en kon die diefstal moontlik toe plaasgevind het.

JC Barnard, voorsitter van die Oudtshoorn Duiweklub, het verlede week ’n beloning van R500 aangebied vir inligting wat kan lei tot die inheg­tenisneming van die skuldiges en die terugvind van die duiwe.

Persone met inligting word versoek om die Oudtshoorn Polisie te kontak.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word ’n klag van diefstal ondersoek.

• Die Hoorn het in November 2016 berig dat Oudtshoorn se duiweboere onder ’n string duiwe­diefstalle deurgeloop het nadat daar meer as 50 duiwe by verskeie duiweboere gesteel is.

Hierdie was die werk van kinders, wat duiwe gesteel en dan hul penvere uitgetrek het om te verhoed dat hul wegvlieg.
Die huise waar die duiwe gesteel was, is ook vooraf gemerk.

Log in with your credentials

Forgot your details?