R500-beloning na diefstal van R18 000 se vliegduiwe op Oudtshoorn

Shawn Botha by sy duiwehok.

Sowat 36 vliegduiwe van Shawn Botha is gisteraand uit hul hokke by sy huis in Badenhorststraat op Oudtshoorn gesteel. Dié skade word konserwatief op R18 000 beraam.

Botha, wat al tien jaar met duiwe boer, was sigbaar onsteld toe hy vroeër vandag met Die Hoorn gepraat het.

Dit wil voorkom of die dief of diewe toegang tot die erf verkry het deur die doringdraad bo-op die muur op ‘n manier vas te bind dat ‘n klein opening gevorm word waardeur iemand kon klim, moontlik slefs ‘n kind.

Botha wat twee hokke met onderskeidelik vliegduiwe en broeipare sê dat baie van die duiwe wat gesteel is, was sy eie kuikens wat hy grootgemaak het. “Ek wil hulle net terughê. Ek weet nie of hulle kos kry en of hulle oukei is nie,” het hy gesê.

Hy sê bure het klaarblyklik onstreeks 23:20 honde erg hoor blaf en dat die diefstal moontlik toe plaasgevind het.

JC Barnard, voorsitter van die Oudtshoorn Duiweklub, het ‘n beloning van R500 aangebied vir inligting wat kan lei tot die arrestasie van die skuldiges en die terugvind van die duiwe. Volgens Barnard is ‘n konserwatiewe raming van die skade sowat R18 000, maar is dit waarskynlik veel hoër. Persone met inligting word versoek om die Oudtshoorn Polisie te kontak of kan inligting ook deurgee aan Die Hoorn (044 272 5605).

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, word ‘n klag van diefstal ondersoek. (Berig deur Angelique Erasmus)

Log in with your credentials

Forgot your details?