Prins Alberter oorsee vir nuwe Netflix-fliek

Johnny Breedt en sy span besig om ’n stel vir die Netflix-rolprent Sergio te bou.  Foto: Verskaf/Johnny Breedt

Deur Marlene Malan
PRINS ALBERT se Hollywood-rolprentman, Johnny Breedt, het – ná ’n kort kuiertjie by die huis – weer oorsee vertrek vir die vervaardiging van nóg ’n vollengterolprent. Die titel is Sergio.

Dié rolprent vir Netflix speel af in New York, Oos-Timor, Irak, Kambodja en Brasilië. Breedt is die produksie-ontwerper.

“Ek is verantwoordelik vir hoe alle tonele lyk in die lande waar ons Sergio verfilm. Ons skiet in Brasilië vir Brasiliaanse tonele, in Thailand vir tonele in Oos-Timor, Kambodja en Indonesië, en ons klankverhoë waar ons van die kantoortonele skiet, is in

New York – so ook ’n binnenshuise ontploffingstoneel wat in Irak afspeel.”

Sergio is die lewensverhaal van Sergio Vieira de Mello wat sowat 15 jaar gelede ’n Verenigde Nasies-afgevaardigde in Irak was.
Breedt het aan Die Hoorn gesê De Mello was ’n gebore Brasiliaan wat in Oos-Timor gestasioneer was om dié regering te verteenwoordig toe die land sy onafhanklikheid teruggekry het.

“Hy het die Khmer Rouge in die geheim in Kambodja ontmoet om te sorg alle Kambodjaanse vlugtelinge word vreedsaam en veilig in hul land hervestig. Hy het ’n kantoor in New York by die Verenigde Nasies (VN) gehad tydens die George W Bush-regerings­tydperk. Die fliek is Sergio se lewensverhaal, maar dis ook ’n liefdesverhaal.”

De Mello het tydens sy diplomatieke loopbaan ewe veel lof as kritiek ontvang en is beskou as ’n krisis-junkie.

Hy het gefloreer op oorlogs- en ander gevaarsones waar hy sy sjarme, aantreklikheid en onderhandelingsvaardighede gebruik het om lewens te red.

Hy het in 2003 in ’n bomaanval op die Canal-hotel in Bagdad saam met van sy personeellede gesterf. Die aanval is deur Al-Kaïda uitgevoer.

Die hoofrol in Sergio word vertolk deur Wagner Moura, een van Brasilië se voorste akteurs. Hy het groot lof gekry vir sy vertolking van die rol van die dwelmbaas Pablo Escobar in Narcos.

Die regisseur is Greg Barker wat ’n bekroonde dokumentêr oor De Mello gemaak het. Die draaiboekskrywer is Craig Borten, wat vir ’n Oscar benoem is vir sy skryfwerk van Dallas Buyers Club. Hy het Sergio se draaiboek gegrond op die bio-grafie

Chasing the Flame: Sergio Vieira de Mello and the Fight to Save the World deur Samatha Power, ’n voormalige Amerikaanse ambassadeur by die VN.

Breedt werk al van Junie af aan die projek, maar verfilming het gister (1 Augustus) in alle erns begin. Die filmspan hoop om hul werk in die eerste week van Oktober te voltooi, met die vrystellingsdatum vroeg in 2019.

Breedt werk die afgelope paar jaar meestal oor-see, maar was onlangs ’n kort rukkie met verlof tuis. Sy vrou, Yvette, eienaar van die eetplek en snuisterywinkel Lah-di-Dah op Prins Albert, het pas oorsee vertrek om haar man te besoek.

Breedt se film-CV groei verstommend. Hy het in 2013 ’n toekenning (Safta) ontvang vir sy stelontwerp van Mandela: Long walk to Freedom; daarna was hy regisseur van Die ontwaking, gegrond op die spanningsroman Die ontwaking van Abel Lotz deur

Chris Karsten; hy het die produksie-ontwerp van die Gavin Hood-film Eye in the Sky gedoen asook dié van Replicas, saam met

Keanu Reeves; hy het gewerk aan die fliek Chro-nicles vir 20th Century Fox; asook aan die TV- reeks Of Kings and Prophets wat gedeeltelik in Kaapstad verfilm is.

Log in with your credentials

Forgot your details?