Polisie ondersoek verdagte voertuig

Geen ontvoerings of rede tot paniek, sê polisiewoordvoerder oor gerugte

Deur Angelique Erasmus
DIE Oudts­hoorn Polisie is besig met ’n ondersoek na ’n swart of “donkerkleurige voertuig” na waarskuwings op sosiale media teen die moontlikheid van ont-­voerings by skole.

Volgens kapt Louis Visser, woorvoer­der van die Oudtshoorn Polisie, is hulle nie bewus van enige pogings tot ontvoe­ring op Oudtshoorn nie, en is geen klagtes in dié verband by hulle ingedien nie.

“Ons is wel bewus van ’n donker­kleu­rige motor wat ’n jong kind ’n rygeleent­heid aangebied het. Dieselfde voertuig is vermoedelik later naby ’n skool gesien, waar daar moontlik foto’s van kinders geneem is,” sê Visser.

Die registrasienommers van die twee voertuie wat aan die polisie verstrek is, stem egter nie ooreen nie.

Hy sê die polisie is in een van die gevalle ontbied, maar dat die voertuig reeds weg was met die polisie se aankoms op die toneel.

“Ons volg alle inligting op en versoek ouers om veral jonger kinders nie alleen skool toe of terug huis toe te laat loop nie,” sê Visser.

“Maak seker dat kinders onder geen omstandighede by vreemde persone in ’n kar klim nie.
“As daar konfrontasie is en kinders word genader, moet alarm gemaak word, al is dit om te gil en skree.

“Probeer om die registrasienommer van die kar te bekom, die model en kleur en unieke kenmerke soos skade of merke aan die kar.

“Skakel die polisie onmiddelik om dit op te volg.

“Ons vra die publiek om ons in te lig en om nie die reg in eie hande te neem nie.”

Visser sê die gerugte in sosiale media het die polisie genoodsaak om ’n verkla­ring uit te reik.

“Daar is nie rede tot paniek nie.”

Lede van die publiek met enige inlig­ting of wat verdagte voertuie opmerk, kan die radiokamer skakel by 044 203 9022 of 079 893 9968.