Pietersen kry vyf jaar tronkstraf vir oortreding van munisipale finansiële wet

Noël Pietersen praat met die media na sy vonnis. Langs hom sit sy vrou met familie en vriende agter hom. Foto: Garnett Wicomb.

Noël Pietersen praat met die media na sy vonnis. Langs hom sit sy vrou met familie en vriende agter hom. Foto: Garnett Wicomb.

Deur Garnett Wicomb

Hy sal nie stilsit om sy naam skoon te kry nie al verloor hy ook alles wat hy het.

So het die voormalige munisipale bestuurder van Oudtshoorn, Martin Noël Pietersen (60),vanoggend gesê nadat hy in die Oudtshoorn Streekhof vyf jaar gevangenisstraf opgelê is vir die oortreding van die munisipale finansiële bestuurswet.

Streeklanddros Marilyn Cannon van Kaapstad wat Pietersen reeds verlede jaar op vyf klagtes skuldig bevind het, het die klagtes vir vonnis saamgeneem. Sy het bevind dat hy – nadat hy in 2010 heraangestel is as munisipale bestuurder van Oudtshoorn – sy posisie misbruik het toe hy ‘n konsultasiefirma, IBR, aangestel het tot voordeel van homself en/of Ian Kenned, eienaar van IBR.

Meer as R2 miljoen is tussen Oktober 2010 en Junie 2011 aan Kenned uitbetaal.

Pietersen is ook daaraan skuldig bevind dat hy gefaal het om sy pligte as rekenpligtige amptenaar na te kom deurdat hy nie stappe geneem het om nuttelose en vrugtelose uitgawes te verhoed nie. Hy het ook gefaal om die nodige stappe te doen deur toe te sien dat die munisipale voorsieningskettingbeleid geïmplimenteer en op ‘n regverdige, deursigtige, kompeterende en ‘n koste-effektiewe wyse toegepas word.

Hy het ook gefaal om behoorlike finansiële rekords by te hou.

‘n Versoek van Pietersen se regsverteenwoordiger, adv Jerome Pietersen, rondom nuwe inligting wat Pietersen van die Oudtshoorn Munisipaliteit verkry het, is nie aanvaar nie omdat dit volgens die staat nie enige invloed op die hof se bevindings sal hê nie.

Die landdros het ‘n versoek van die verdediging vir ‘n opgeskorte vonnis en boete as te gering beskou vir die ernstige misdrywe waaraan Pietersen skuldig bevind is.

Aansoek om verlof om teen die vonnis te appelleer is met borgtog van R5 000 aan Pietersen toegestaan. Indien die aansoek onsuksesvol is, moet hy binne drie dae by die klerk van die hof op Oudtshoorn aanmeld.

Pietersen het tydens ‘n perskonferensie na sy vonnisoplegging gesê die sake teen hom is kwaadwilliglik deur die spesiale ondersoekeenheid van die Valke aanhangig gemaak.

“Ek was aangestel om die Oudtshoorn Munisipaliteit reg te ruk en het dit gedoen danksy deeglike en eerlike werk. Dit het tot werkskepping vir ons mense en stabiliteit in die munisipaliteit gesorg. Die landdros speel politiek van die bank af.”

Hy sê sy reputasie, roeping en professionalisme is belaster en dat hy beslis nie die saak daar sal laat nie.

Adv Max Orban van die kantoor van openbare vervolging was die aanklaer.

Log in with your credentials

Forgot your details?