Ouditorium gaan aandag kry

Ouditorium gaan aandag kry

Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het ’n raadsgewende ingenieursfirma aangestel om groot gebreke in die ouditorium by die Oudtshoorn Burgersentrum te identifiseer sodat herstel- of opgraderingswerk gedoen kan word, sê Ntobeko Mangqwegqwe, woordvoerder van die munisipaliteit.

Die Hoorn het die week ’n navraag aan die mu­ni­sipaliteit gerig oor die gehawende toestand waarin die ouditorium tans verkeer – van die ver­sle­te stoele tot die struktuur self. Verskeie inwoners het hul kommer oor die voorkoms en die veiligheid van die ouditorium uitgespreek nadat hulle ’n vertoning van Nataniël verlede Donderdagaand daar bygewoon het.

Omdat die gedeelte agter die verhoog ook baie sleg lyk, het inwoners van die dorp ingespring om ’n kleedkamer vir Nataniël in te rig en te verfraai en het hy hulle spesiaal tydens die vertoning daarvoor bedank.

As deel van die opdrag aan die ingenieursfirma word ’n kostebepaling gevra om gebreke te herstel.
“Die munisipaliteit is in die proses om die ouditorium op te gradeer. Ons is bewus van die gebreke in die saal,” sê Mangqwengqwe.

Hy sê die gehalte van munisipale eiendomme is ’n sleutel-prioriteit en het die publiek se geduld gevra terwyl probleme daar aangespreek word.