Oud-hoof sterf by stopry-punt

Ernst van Biljon (65) wat Maandag gesterf het nadat hy vermoedelik beheer verloor het oor sy motorfiets by ’n stopry-punt op die pad tussen Oudtshoorn en De Rust.
Foto verskaf

Deur Angelique Erasmus
’N OUDTSHOORNIET wat Maandag met sy motorfiets in ’n ongeluk betrokke was by ’n stop­rypunt sowat 7 km buite Oudtshoorn op die De Rust-pad, het kort daarna in die ambulans op pad hospitaal toe gesterf nadat hy ’n hartaanval gekry het.

Ernst Van Biljon (65), ’n geliefde oud-skoolhoof van Kemptonpark, het in April 2016 in Oudts­hoorn kom aftree nadat hy ’n liefde vir die Klein Karoo en omgewing ontwikkel het.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het Van Biljon vermoedelik beheer oor sy motorfiets verloor en geval. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Van Biljon se suster, Marieta van Biljon, ook ’n inwoner van Oudtshoorn, sê haar broer het in 2010 gesê hy gaan eendag in die Klein Karoo kom aftree en dat sy solank vir haar moet werk soek in dié streek sodat sy kan saamkom.

Sy het drie jaar gelede na Oudtshoorn verhuis, en hy het kort na haar Oudtshoorn toe getrek.

“My broer was baie lief vir motorfietsry, en sou altyd eerder daarmee as ’n motor ry,” sê sy. “Hy het inteendeel vir jare nie ’n kar gehad nie”

Van Biljon was amper 20 jaar die skoolhoof by Sir Pierre van Ryneveld Hoërskool in Kemptonpark, het die huidige skoolhoof, Margie Wrigley, aan Die Hoorn gesê.

Sy onderwysloopbaan het in 1980 by die skool begin.

Hy het in 1988 ’n pos aanvaar by Western Hoërskool in Johannesburg, en is later aangestel as hoof van Malvern Hoërskool voordat hy in 1997 teruggekeer het as hoof by Sir Pierre van Ryneveld Hoërskool.

Hy het die skool met groot wysheid deur die transformasietydperk geneem en was ’n baie intelligente man, het Wrigley bygevoeg.

“Hy het passievol in die waarde van onderwys geglo en baie vir die skool, sy leerders en sy personeel omgegee. Ons het almal voordeel getrek uit sy wysheid, sy toewyding en sy leierskap, en is baie hartseer om te hoor van sy dood.”

Van Biljon was bekend as iemand wat baie avontuurlustig was, en het gereeld geskubaduik, geseil, met sy Land Rover deur Suid-Afrika getoer en selfs ’n valskermsprong aangedurf.

“My broer het altyd vir my gesê ’n mens moet nie net bestaan nie, jy moet lewe, en ek glo hy het beslis dit gedoen. Hy het gelewe,” sê Marieta.

Hy word oorleef deur Marieta, sy dogter Mia van Biljon, sy lewensmaat Karin Vermeulen en ’n kleinkind, Hanroux, wat hom groot genot verskaf het.

Van Biljon word Saterdag (15 Junie) om 14:00 vanuit die Hervormde Kerk op Oudtshoorn begrawe.

Log in with your credentials

Forgot your details?