Opgeskorte vonnis vir man wat skuld beken

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van De Rust wat saam met twee ander tereg gestaan het op klagtes van roof met verswarende omstandighede is gister in die Oudts­hoorn Streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê.

Gerald Gelant (27) se verhoor is van die twee ander beskuldigdes s’n geskei nadat hy skuldig gepleit het op ’n klagte van begunstiging tot diefstal.

Gelant is saam met Faizel le Grange (18) en Anver Snyman (22) daarvan aangekla dat hulle op 13 Mei 2018 vir Jonathan Muggels van Kudukloof, Middelplaas, van R300 kontant en ’n Samsung-selfoon ter waarde van R1 500 beroof het nadat hulle hom met ’n kapmes en mes gedreig het. Volgens Gelant was hy nie betrokke by die voorval nie en het hy net iemand aan Le Grange en Snyman voorgestel wat ’n selfoon wou koop.

Hy het erken dat hy geweet het die selfoon is gesteel en dat hy daarvoor gestraf moet word.

Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het sy pleitverduideliking aanvaar omdat hy eerlik was met die hof, maar gesê dat hy nogtans gestraf moet word vir ’n ernstige misdryf al het hy geen vorige veroordelings nie. Die klaer het ook nooit sy selfoon teruggekry nie.

Streeklanddros Daniel Boks het Gelant tot R2 000 of 12 maande gevangenisstraf gevonnis, voorwaardelik in geheel vir vyf jaar opgeskort.

Gelant is gewaarsku dat hy nog ’n geleentheid kry maar nie ’n volgende keer so gelukkig sal wees nie. Hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Log in with your credentials

Forgot your details?