Ontsteltenis toe oupa verskyn

Onderwysers en ander inwoners van Prins Albert het Dinsdag voor die plaaslike landdroshof hul ontsteltenis getoon oor die vermeende verkragting van ’n laerskoolmeisie van die dorp. ‘n Onderwyser, Sammy Delport, staan heel voor. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
’n Groep inwoners van Prins Albert het Dinsdagoggend voor die landdroshof hul ontsteltenis getoon oor die vermeende ver­krag­ting van ’n agtjarige meisie van die dorp deur haar oupa.

Terwyl die 56-jarige man binne die hof gehoor het hy word aangekla op ’n Bylaag 6-oortreding, het onderwysers van skole in die dorp saam met ander inwoners voor die hof­gebou in die hoofstraat saamgedrom en hul misnoeë met die gebeure gewys deur slag­spreuke op plakkate te vertoon.

’n Onderwyser, Sammy Delport, het gesê hulle het met ontsteltenis van die vermeende voorval verneem. “Ons soek nie dié soort dinge in die dorp nie. Ons staan hier vir die kind, maar ook om in die openbaar te wys hoe ons hieroor voel. Dis tyd dat die gemeenskap opstaan teen sulke oortredings, dat ons moet terugbaklei. Maar ons dink ook aan die oortreder. Ons bid vir almal.”

Onder die groep was ses Belgiese onderwysstudente wat drie maande lank praktiese ervaring by skole in die dorp opdoen.

Die man het verlede Dinsdag die eerste keer in die hof verskyn, nadat hy twee dae tevore by die huis waar hy saam met sy kinders en kleinkind woon in hegtenis geneem is ná die meisie medies ondersoek is.

Wenzel Botha het as regshulpprokureur vir die beskuldigde opgetree. Hy het aan landdros Tom Claassen gesê sy kliënt wil ’n for­mele borgaansoek bring. “Ek het aan die beskuldigde verduidelik wat sy posisie is, maar hy wil steeds sy reg op ’n formele borgaansoek uitoefen.”
Die saak is tot 4 Maart uitgestel.