Ontevredenheid oor myn van klip by Bloupunt

Bouwerk aan R341 gaan voort

Deur Liesel le Roux
BOUWERK aan die R341 tussen Oudtshoorn en De Rust het die afgelope week voortgegaan te midde van bewerings van inwoners van Dysselsdorp dat daar hangende grondeise is op die terrein waar gruis vir die bouwerk gemyn word.

Die Eden Distriksmunisipaliteit en die Wes-Kaapse Departement van Vervoer het aangedui dat hulle nie bewus is van enige grondeise by die terrein op Bloupunt nie, en dat hulle die aangeleent­heid verder ondersoek.

Volgens Hans Ottervanger, uitvoerende bestuurder: paaie by die Eden Distriksmunisipaliteit, behoort die stuk grond by Bloupunt sedert 2014 nie meer aan die Eden Distriksmunisipaliteit nie. Dit is in 2014 deur die Wes-Kaapse regering onteien nadat dit geïdentifiseer is as ’n geskikte bron vir padboumateriaal.

Byron la Hoe, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer, sê die Eden Distriksmunisipaliteit is ’n markverwante prys daar­voor betaal.

Hy sê die kontrakteur het sy voertuie en werktuie na ’n ander terrein geskuif, maar klip en grond word steeds by Bloupunt uitgegrawe terwyl gesprekvoering met die inwoners voortgaan

“Ons sal binnekort weer met hulle vergader sodra ons die geleentheid gehad het om die status en geldigheid van hul eise te evalueer en hulle het aanvaar dat werk op die betwiste gebied sal voortduur terwyl besprekings voortduur.

“Ons bly sensitief teenoor die gemeenskap se besorgdheid en sal poog om hierdie kwessie vriendelik en met konsensus van alle geaffekteerde partye op te los. Ons is vol vertroue dat die saak bevredigend opgelos kan word.”

George Meyer, ’n gemeenskapsleier van Dysselsdorp, het egter gister gesê hy en lede van die gemeenskap is nie tevrede met die situasie nie.

“Ons is nou op pad na die polisiekantoor om ’n klagte in te dien teen die Eden Distriksmunisipaliteit vir die onwettige verkoop van die grond in Bloupunt.

“Daarna gaan ons ’n interdik verkry om die kontrakteur te verbied om verder grond by Bloupunt te myn,” het hy gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?