‘Ons gaan politieke leiers verantwoordelik hou, sê voorsitter

Die uit­nodiging aan rolspelers wat onderteken is deur die munisipale bestuurder, Allen Paulse, en die burgemeester, Colan Syl­vester.

DIE Oudtshoorn Besigheidskamer het ’n sterk bewoorde brief aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingssake en ontwikkelingsbeplanning gestuur nadat die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, op 1 Maart nie opgedaag het by ’n daglange vergadering wat hy saam met die munisipale bestuurder, Allen Paulse, met verskeie rolspelers op die dorp gereël het nie.

“Ons wil nie politiek speel nie, maar ons gaan politieke leiers verantwoordelik hou,” het die Besigheidskamer se voorsitter, Gideon Badenhorst, verlede Donderdag by die kamer se algemene jaarvergadering gesê.

Die brief is ook aan Helen Zille, Wes-Kaapse premier, Mmusi Maimane, nasionale DA-leier, en dr Ivan Meyer, Wes-Kaapse DA-leier, gestuur.

Badenhorst sê die afwesigheid van Sylvester by die vergadering wat vanaf 08:00 tot 17:00 plaasgevind het, was ’n verleentheid vir almal.

Die huidige waterkrisis was die eerste belang­rike besprekingspunt, waarna die genooide rolspe­lers met die munisipale leierskap in gesprek kon tree – volgens die agenda sluit dit AfriForum, die Besigheidskamer, inwoners van De Rust, Drylands, die Kanaal en Black Joint-komitee, inheemse leiers, en klein kontrakteurs in.

Badenhorst het sy dank uitgespreek teenoor die munisipale bestuurder, Allen Paulse, en die hele senior span amptenare wat wel teenwoordig was en altyd ’n oop deur het vir die Besigheidskamer.

Volgens Badenhorst was dit by die werksessie duidelik dat Paulse ook baie ontsteld was oor die burgemeester se afwesigheid.
• AfriForum Oudtshoorn het intussen ook ’n brief aan Bredell gerig waarin hulle onder meer hul kommer oor dieselfde voorval asook oor verskeie ander kwessies uitgespreek het.

Die Hoorn het gister ’n navraag aan die burgemeester gerig om sy kant van die saak te stel, maar het teen druktyd nie reaksie ontvang nie.

Sylvester het egter na verneem word vandeesweek ’n uitnodiging vir ’n opvolg­vergadering van die 1 Maart-vergadering aan rolspelers ge­stuur. Die opvolgvergadering sal volgende Dinsdag, 19 Maart, plaasvind.

Log in with your credentials

Forgot your details?