Onmin oor groot planne met Calitzdorp Spa en De Hoek

Deur Liesel le Roux
PLANNE van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit om die Calitzdorp Spa en die De Hoek Bergoord aan die hange van die Swartberge vir ’n tydperk van 50 jaar aan ’n ontwikkelaar te verhuur vir opgradering en bestuur, kry die wind van voor van talle inwoners.

Aan die een kant is daar inwoners wat vrees dat die oorde voortaan net vir welvarende mense toeganklik gaan wees, terwyl daar ook groot teenstand is as gevolg van hangende grondeise op die grond van die Calitzdorp Spa.

Luidens ’n kennisgewing van die distriksmunisipaliteit waarin inwoners gevra is vir terugvoer op dié planne, sal die verhuring van die twee sukkelende oorde ’n multi-miljoenrand-inspuiting vir die plaaslike ekonomie wees, werk skep, toe­risme stimuleer en deur ’n “belegging in groen tegnologie” watersekuriteit vir die Kannaland Muni­­sipaliteit meebring.

Die beoogde ontwikkeling behels ’n verskeidenheid verblyfkomplekse, asook onder meer ’n gholf­baan, restaurant, kliniek, verblyf vir personeel, ’n speelterrein vir kinders, ’n virtuele reali­teits-arkade, treine vir kinders en ouers om die besienswaardighede van die kompleks te besigtig, ’n gesondheids- en skoonheidskliniek, ’n voëlreservaat en die hervestiging van ekovriendelike plante en diere.

Die ontwikkelaar, bekend as LEN24 (Pty) Ltd en klaarblyklik van die buiteland, sal alle koste hier­van dra.

Memory Booysen, burgemeester van die distriksmunisipaliteit, het tydens sy distriksrede in April vanjaar reeds bekend gemaak dat so ’n huur­kontrak deur die distriksmunisipaliteit oorweeg word, terwyl verskeie kennisgewings daaroor ook se­dert Maart deur die munisipaliteit geplaas is.

Mense kon tot 20 Mei reageer op die munisipaliteit se beoogde planne. (Die planne het nog nie voor die raad gedien vir goedkeuring en aanvaarding nie.)

• Kitty Jacobs, ’n gemeenskapswerker van die Calitzdorp-ongewing, is die afgelope week verskeie kere deur die media aangehaal oor haar familie se teenstand teen die planne. Volgens Jacobs is daar nog twee onafgehandelde grondeise op die grond van die Calitzdorp Spa. Haar grootoupa het volgens haar die waterbron ontdek.

Jacobs beoog na verneem word ook om haar tot die Menseregtekommissie te wend.

Ian Avontuur, woordvoerder van die Kannaland Munisipaliteit, het gister in ’n mediaverklaring daarop gewys dat die Kannaland Munisipaliteit nie geraadpleeg is oor die voorgestelde langter­myn-verhuring van die Calitzdorp Spa nie.

Volgens Avontuur is die Kannaland Munisipaliteit daartoe verbind om ’n werkbare oplossing te vind vir die Calitzdorp Spa, en sal gesprekke met die Tuinroete Distriksmunisipaliteit gevoer word.

“Die munisipaliteit sal ’n meer breedvoerige verklaring uitreik na afhandeling van gesprekke met alle belanghebbendes,” het hy gesê.

Log in with your credentials

Forgot your details?