Nuwe verhoogtekste by vierde teksmark

KUNSTE ONBEPERK het van 5 tot 7 November (vandag) die vierde Teksmark in Kaapstad aangebied.
In 2018 is die Teksmark vereer met ’n spesiale Fleur du Cap-prys vir innovasie. Dié inisiatief het reeds talle tekste ge­lewer wat opgeraap en ontwikkel is tot suksesvolle produksies, onder meer Amee Lekas se Die dans van die Watermeid, Marina Albertyn se Melk en Vleis, Herschelle Benjamin se In Slavenhuis 39, Bauke Snyman se Swerfgoed, Ludwig Binge se Kleedkamer Blues en Wessel Pretorius se Wilde-als.

“Die Teksmark is nie ’n kompetisie nie, dit is ’n platvorm vir skrywers om hulle teksidees en tekste voor te lê aan belanghebbendes, deels vir terugvoer en hopelik vir verdere teksontwikkeling om uiteindelik kwaliteit tekste vir volwaardige produksies te bied,” sê die artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, Hugo Theart.

16 tekste deur gevestigde en opko­mende dramaturge is deur ’n onafhanklike paneel vanuit 62 aansoeke gekies om aan vanjaar se Teksmark deel te neem. Die paneel het bestaan uit Diane de Beer, Marguerite Robinson, Cornelia Faasen en Lee-Ann van Rooi.

Die volgende skrywers se werk is vanjaar aangebied: Herschelle Benjamin (Aghulhas­vlak­te), Stephanie Burnett, Ayden Kruger, Megan Meyer, Jaime Montgomery en Lezanne Steenkamp (Draft 5), Wilken Calitz en Shaun Oelf (Karatara), Beyers de Vos (Roosmaryn), Zac Fleishman (Fresh Meat), Andrico Goosen (But, Baby I Love You), William Hindley, Preston Hugo, Alistair Seymour, Tora Turner en William Vermaak (BallBox), Veronique Jephtas (My kroon se krank), Wentzel Lombard (Bring vir my die kindertjies), Thukelo Maka (The Boy of the Mountain), Rafiek Mammon (Marry-Go-Round), Wessel Pretorius (Valskermstories), Philip Rademeyer (Maan­Sonde), Lwanda Sindaphi (I Will Teach You How to Share the Milk), Bibi Slippers (Al my vriende se dooie honde) en Caitlin Wiggle (A Prayer Group Called Water Wings).

Die teksvoorstelle sal vir verdere ont­wikkeling oorweeg word en skrywers ontvang ook terugvoer oor hulle verhoogtekste van verskillende belang­hebbendes uit die bedryf.

Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van NATi, meen die impak en omvang van Teksmark se invloed op die bedryf die laaste drie jaar kan nie oorskat word nie. “Van jong skrywers wat hulle produksies op die planke gesien het, tot ouer skrywers wat weer hulle hand waag aan iets nuut en spelers en regisseurs wat hier ’n eerste geleentheid gegun word. Teksmark is jaarliks ’n energie-inspuiting vir die bedryf,” sê Faasen.

Die Teksmark word by die Baxter-teatersentrum se Golden Arrow Studio aangebied. Lara Foot, die teatersentrum se uitvoerende hoof en artistieke direkteur, sê hulle is vanjaar veral trots met Teksmark wat meer inklusief en verteenwoordigend word met die toename van ander Suid-Afrikaanse tale in die aanbod.

Vir navrae: Daleen Witbooi by 044 203 8600 of e-pos info@kunste.org.za

Log in with your credentials

Forgot your details?