Nuwe hoop vir bedreigde skilpadjies

Die bedreigde skilpadjies (Astrochelys radiata) wat by die Cango Wildlife Ranch gebore is, se doppe is kenmerkend met die heldergeel strepe wat vanuit die middel van elke donker deel van die dop na buite uit-“straal”. Foto verskaf

DIE geboorte van vier bedreigde skilpadjies (Astrochelys radiata) by die Cango Wildlife Ranch is ’n mylpaal vir bewaring en bring nuwe hoop vir die spesie se oorlewing, sê Mari Lize Warrington, bemarkingsbestuuirder.

Drie van die skilpadjies is op 10 Maart gebore en nog een op 25 Maart.

Die Astrochelys Radiata wat inheems is aan Madagaskar, word deur baie as van die mooiste skilpaaie in die wêreld beskou; een van die redes is waarom hulle so bedreig word. Hulle is die slagoffers van onwettige troeteldier-handel na veral Suidoos-Asië, en word ook deur mense geëet, onder meer in Madagaskar self, en boonop veral oor Kersfees en Paasfees.

Volgens Warrington het die ma-skilpad, wat vanjaar 78 jaar oud word, twee gate van tussen 15 cm en 20 cm diep gegrawe en altesame ses eiers in die gate gelê. ’n Skilpad se eiers neem tot nege maande om uit te broei.

Die skilpaaie se pa is glo 33 jaar oud.

Neal Martin, die Cango Wildlife Ranch se reptielkurator, is die een wat van die skilpaaie se geboorte af verantwoordelik was om omstandighede so gunstig moontlik te hou om hul oorlewing te verseker. Die temperatuur waar hul bly, word op tussen 25 °C en 28 °C gehou en hul etes sluit vars en sappige kos in soos murgpampoentjies, groenbone, hibiskusblomme, komkommer en spek­boomblare.

Log in with your credentials

Forgot your details?