Nuwe fees vir die Klein Karoo!

Konsertgangers kuier gesellig saam by die kosstalletjies (bo) en in die VIP-area voor die vertoning A Classical Tribute to ABBA Saterdagaand op die granaatplaas Celebratio. Saterdagaand se buitelugkonsert was die tweede musiekkonsert by Celebratio. Die konserte daar is in Desember verlede jaar geopen met die konsert Klassieke Klein Karoo Kersfees. ’n Kos- en wynfees, Proe die Klein Karoo, vind in die Septembervakansie ook by Celebratio plaas. (Foto’s verskaf.)

Deur Liesel le Roux
DIE kos en die wyn van die Klein Karoo is die fokus van ’n nuwe fees wat in die Septembervakansie op Celebratio, die granaatplaas langs die sementpad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp, gaan plaasvind.

Die fees, wat bekend staan as Proe die Klein Karoo, vind oor die na-week van 21 en 22 September plaas.

Die fees, wat onder meer stalletjies met die Klein Karoo se kos- en wynprodukte, sal bied, word aangebied deur Celebratio in same­werking met die Oudtshoorn Besig­heids­kamer, Oudts­hoorn Toe­ris­­me en Agri Klein Karoo.

Die fees se doelwit is onder meer om mense bloot te stel aan al die wonderlike produkte wat in die streek vervaardig word, sê Gerhard Meyer, eienaar van Celebratio.

Volgens hom kan feesgangers in Sep­tember ook “kosteater’ verwag, met chefs wat vir feesgangers sal wys wat met die Klein Karoo se produkte gedoen kan word.

’n Werkswinkel van twee dae vir produsente in die streek word ook beoog waartydens gesprek gevoer sal word met kettingwinkelgroepe oor maniere waarop klein en groter produsente hul produkte op dié winkels se rakke kan kry.

• Meyer het Saterdagaand by die konsert met ABBA-musiek, A Classical Tribute to ABBA, ook Celebratio se program vir die res van die jaar bekend gemaak.

Celebratio se konserte word ná die winter op Saterdag, 7 September, voortgesit met ’n konsert deur die gewilde Snotkop.

Op Saterdag 26 Oktober, tree Corlia Botha, Corniel Muller en die Stellenbosch Stadsorkes by Celebratio op met die konsert A Classical Tribute to Andrew Lloyd Webber.

Op Saterdag, 2 Desember, kom Jannie Moolman na Celebratio om saam met Corlia op te tree in vanjaar se Klein Karoo Klassieke Kersfees.

Log in with your credentials

Forgot your details?