Noue ontkoming vir Duitse toeriste

Bo en onder:  Die botsings­toneel Woensdagoggend op die Kango Grotte-pad waar ’n grys Mitshubishi Outlander met drie toe­riste reg van voor met die Volks­wagen Caddy van ’n Oudts­hoorniet gebots het.  Foto’s verskaf

Deur Angelique Erasmus
DRIE toeriste van Duitsland en ’n Oudtshoorniet was gisteroggend net na 10:00 betrokke in ’n bot­sing tussen twee voertuie reg van voor op die Kango Grotte-pad. Die Oudtshoorniet het snye aan sy gesig opgedoen, terwyl die toeriste oënskynlik beseringsvry was.

Die botsing het na bewering plaasgevind toe die toeriste – twee volwassenes en ’n kind – se gryskleurige Mitsubishi Outlander in die verkeerde baan in die Kango Grotte-pad ingedraai en voor die aankomende verkeer vanaf Oudtshoorn beland het.

’n Isuzu-bakkie wat op sy beurt vanuit Oudts­hoorn se rigting op pad was, moes na links op die gruis langs die pad uitswaai om die Mitsubishi te mis, maar ’n goudkleurige Volkswagen Caddy-bakkie, wat agter die Isuzu-bakkie gery het, kon nie betyds vir die toeristevoertuig uitswaai nie.

Die Mitsubishi en die Caddy het mekaar reg van voor getref.

Die bestuurder van die Caddy, wat alleen in die voertuig was, is met beserings na die hospitaal geneem, terwyl die drie toeriste ook na ’n hospitaal geneem is vir ’n ondersoek.

Hulle is op die toneel ondersteun deur Ilze Jacobs, die noodkontakpersoon in die Suid-Kaap vir die Wes-Kaapse regering se toerismebystandsprogram wat internasionale toeriste in noodgevalle bystaan.

Log in with your credentials

Forgot your details?