’n Trompet vir Francois

Cameron Dugmore, lid van die Wes-Kaapse wetgewer, het Dinsdag ’n trom­pet aan Oudts­hoorn se be­kende fluitspe­ler, Francois Goliath, oorhandig. Dugmore het Francois in Mei raakge­loop waar hy besig was om die volks­lied te speel en be­sluit om ’n verskil in sy lewe te maak.  (Lees meer hieroor op bladsy 2.) By hulle is Jenny-Lee Montague van Old Mutual wat vir die trompet betaal het. Foto: Schalk le Roux

Cameron Dugmore, lid van die Wes-Kaapse wetgewer, het Dinsdag ’n trom­pet aan Oudts­hoorn se be­kende fluitspe­ler, Francois Goliath, oorhandig. Dugmore het Francois in Mei raakge­loop waar hy besig was om die volks­lied te speel en be­sluit om ’n verskil in sy lewe te maak. By hulle is Jenny-Lee Montague van Old Mutual wat vir die trompet betaal het.  Foto: Schalk le Roux

Die Bridgton United Congregational Church se jeugbrigade-orkes wat Dinsdag tydens die oorhandiging van ’n trompet aan Francois Goliath opgetree het. Derde van links speel Francois met sy blokfluit saam met die jeugbrigade.

Die Bridgton United Congregational Church se jeugbrigade-orkes wat Dinsdag tydens die oorhandiging van ’n trompet aan Francois Goliath opgetree het. Derde van links speel Francois met sy blokfluit saam met die jeugbrigade.

Deur Wyndham Ewerts
DIE bekende blokfluitspeler van Hoogstraat op Oudtshoorn, Francois Goliath, het Dinsdagmiddag die trotse eienaar van ’n splinternuwe trompet geword ten aanskoue van belangstellende omstaanders.

Die skenking is ’n inisiatief van Cameron Dugmore, lid van die Wes-Kaapse wetgewer, wat in Mei vanjaar vir Francois op die sypaadjie die volks­lied sien speel en toe met hom gesels het.

Nadat hy ’n video oor Francois op Facebook geplaas en gevra het vir ’n trompet vir Francois, het Danie Malan, direkteur van finansies van Old Mutual, laat weet hulle sal vir ’n trompet vir Francois betaal.

Intussen het die Bridgton United Congregational Church (BUCC) ook uitgereik na Francois en hom by aktiwiteite van die kerk betrek. Met die nuwe trompet gaan Francois nou lid raak van die kerk se jeugorkes – iets waaroor hy baie opgewonde is.

Die trompet is Dinsdagmiddag deur Dugmore en Jenny-Lee Montague, korporatiewe verkoopsbestuurder van Old Mutual, aan ’n glimlaggende Francois oorhandig.

• Francois speel al baie jare lank op sy blokfluit deuntjies voor Clicks in Hoogstraat om mense te vermaak en met die hoop op ’n fooitjie.

Dugmore vertel toe hy vir Francois ontmoet het, het die jong man se talent hom dadelik opgeval.

“Ons het begin gesels en hy het my van sy agtergrond vertel.” Francois se ma is by sy geboorte oorlede. Sy ouma het hom toe versorg totdat sy oorlede is toe hy 14 jaar oud was.

Dugmore sê Francois het tydens hul gesprek genoem dat hy graag ’n trompet wil hê. “Dis toe dat ek besluit het om hom te help.

Ek het ’n video van Francois geneem en op Facebook geplaas waar dit groot aandag getrek het,” vertel hy

Daarna het dinge in plek begin val om Francois, wat deur maatskaplike en sosiale uitdagings in die gesig gestaar word, se lewe te verbeter.

Francois woon tans in Dassieweg by sy oom Karel Goliath wat hom versorg, en word deur onder meer die BUCC bygestaan.

Daar word ook beoog om Francois by ’n jeugprogram van Imida Developments & Consulting te betrek.

En intussen kon ’n dankbare Francois nie ophou glimlag oor sy nuwe trompet nie.

“Ek wens net my ouma was hier om die blydskap met my te deel,” het hy gesê.

Be the first to comment on "’n Trompet vir Francois"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*