Mosie teen moontlike verhuring van De Hoek

Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn-raad het by ’n raadsvergadering op 28 Junie besluit om ’n dispuut te verklaar oor die Tuinroete Dis­triksmunisipaliteit se reg om te onderhandel oor die moontlike verhuring van die De Hoek Vakansieoord aan buitelandse beleggers.

Luidens ’n mosie wat by die vergade­ring deur raadslid Gaven Juthe van Sarco ingedien is, behoort munisipale oorde soos De Hoek ingevolge Art 84 (2) van die Munisipale Strukturewet (Wet 117 van 1998) aan die plaaslike munisipaliteit, dus Oudtshoorn, en nie aan die distriksmunisipaliteit nie.

Volgens Juthe is daar wel ’n interim-ooreenkoms tussen die Oudtshoorn Munisipaliteit en die Distriksmunisipaliteit dat laasgenoemde De Hoek namens die Oudtshoorn Munisipaliteit bestuur, maar is die besluit van moontlike langtermyn-verhuring van De Hoek onregmatig en sonder toestemming van die Oudtshoorn Munisipaliteit geneem.

Planne van die Tuinroete Distriksmunisipaliteit om die Calitzdorp Spa en die De Hoek vir ’n tydperk van 50 jaar aan ’n ontwikkelaar te verhuur vir opgrade­ring en bestuur, kry die wind van voor van talle inwoners.

Die Distriksmunisipaliteit het onlangs in ’n verklaring gesê beide oorde ly al meer as ’n dekade lank groot verliese en dat die verhuring daarvan die enigste reddingsboei mag wees om te voorkom dat beide gesluit word en mense hul werk verloor.

Geen ooreenkoms is egter nog met ’n huurder gesluit nie.

Volgens ’n voorstel wat die distriksmunisipaliteit ontvang het, sal so ’n moontlike ontwikkeling by die twee oorde bestaan uit ’n verskeidenheid verblyfkomplekse, asook onder meer ’n gholf­baan, restaurant, kliniek, verblyf vir personeel, ’n speelterrein vir kinders, ’n virtuele reali­teits-arkade, treine vir kinders en ouers om die besienswaardighede van die kompleks te besigtig, ’n gesondheids- en skoonheids-kliniek, ’n voëlreservaat en die hervestiging van ekovriendelike plante en diere.

Log in with your credentials

Forgot your details?