Moordsaak van 20 jaar gelede opnuut ondersoek

Deur Angelique Erasmus
TWINTIG jaar nadat die 12-jarige Lizette Smit van Volmoed een oggend op pad skool toe vermis geraak het, word vrae steeds gevra oor wat daardie dag gebeur het en wie vir haar moord verant­woordelik was.

Lizette is op 6 September 1999 as vermis aange­meld.

’n Uitgebreide soektog deur die Volmoed-gemeenskap en die Polisie het niks opgelewer nie.

Twee jaar later, op Maandag 2 April 2001, is haar oorskot in ’n volstruiskamp in Muldersbank gevind.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die saak toe van vermis na moord verander omdat skedelbreuke aan die skedel van haar oorskot gevind.

Die saak word egter nou opnuut ondersoek nadat ’n ongeïdentifiseerde man na bewering op Sondag, 7 Julie, aan van haar familielede erken het dat hy Lizette vermoor het.

’n Stemopname is na bewering deur die familielede gemaak tydens sy erkenning.

Daar is daarna met die Polisie kontak gemaak en reëlings is getref dat die man Maandag, 8 Julie, ’n bekentenis voor ’n speurder sou aflê.

Die man het egter die betrokke Maandag glo teenoor die speurder ontken dat hy enigsins by die moord betrokke was.

Die man het Dinsdag, 9 Julie, in verband met die saak in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn, maar die saak is volgens kapt Visser van die rol geskrap.

Op die stemopname wat van die man gemaak is, kan na bewering duidelik gehoor word dat hy onder die invloed van drank was.

Visser sê die saak word steeds ondersoek.

Hy het gevra dat enigeen met nuwe inlig­ting met kapt Johan Bouwer van die Oudtshoorn Polisie by 044 274 4400 in verbinding tree.

Alle inligting wat deurgegee word, sal vertroulik hanteer word.

Log in with your credentials

Forgot your details?