Moordklag ná kind sterf

Venesere Olivier (11). Foto: Facebook

Deur Liesel le Roux
’N GRAAD 5-leerder van Saturnus Primêr op Oudtshoorn, Venesere (Neska) Olivier (11), is verlede Woensdag (18 September 2019) in die Rooikruis Hospitaal in die Kaap oorlede nadat sy na bewering met ’n baksteen teen die kop gegooi is.

’n Twintigjarige man van Oudtshoorn, Brandon Fortuin, is na die voorval in hegtenis geneem en het reeds op 20 September in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn. Die saak teen hom is uitge­stel tot 29 Oktober vir verhoor. Die polisie ondersoek ’n klagte van moord.

Na verneem word, was Venesere die Sondag voor haar dood omstreeks 12:00 op pad na ’n winkel naby haar huis toe sy in Siyabongastraat raakgegooi is. Kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die baksteen is na bewering gegooi tydens ’n stryery tussen die verdagte en iemand anders.

Venesere is na die voorval oorgeplaas na die George Hospitaal en daarvandaan na die Grootte Schuur Hospitaal in Kaapstad.

Sy is na verneem word Dinsdag breindood ver-klaar met die lewensondersteunende masjiene wat afgeskakel is.

Saturnus Primêr het Venesere op die skool se Facebook-bladsy as ’n skaam en stil kind beskryf, en hul meegevoel teenoor haar naasbestaandes betuig.

Log in with your credentials

Forgot your details?