Só is moord glo beplan

• Maggie Titus in hof in verband met haar man se dood

In hegtenis. Maggie Titus kom Vrydagmiddag onder blyke van groot belangstelling by die Oudtshoorn Polisiekantoor aan nadat sy vroeër die dag op Barrydale in hegtenis geneem is. By haar is Wilfred Apollis, ’n speurder wat ook help met die ondersoek. Foto: Schalk le Roux

In hegtenis. Maggie Titus kom Vrydagmiddag onder blyke van groot belangstelling by die Oudtshoorn Polisiekantoor aan nadat sy vroeër die dag op Barrydale in hegtenis geneem is. By haar is Wilfred Apollis, ’n speurder wat ook help met die ondersoek. Foto: Schalk le Roux

Die deure en hekke van die Oudtshoorn Landdroshof moes Maandagoggend gesluit word toe die hofsaal vol was waar Maggie Titus, Nasthasia Stuurman en Justice Mooi verskyn het in verband met die moord op Pres­ton Titus. Foto: Garnett Wicomb

Die deure en hekke van die Oudtshoorn Landdroshof moes Maandagoggend gesluit word toe die hofsaal vol was waar Maggie Titus, Nasthasia Stuurman en Justice Mooi verskyn het in verband met die moord op Pres­ton Titus. Foto: Garnett Wicomb

Die slagoffer. Preston Titus wat op 1 Desember verlede jaar in sy slaapkamer vermoor is. Foto: Facebook

Die slagoffer. Preston Titus wat op 1 Desember verlede jaar in sy slaapkamer vermoor is.
Foto: Facebook

Gevonnis. Sixabiso Klip, motorbestuurder van Maggie Titus. Foto: Facebook

Gevonnis. Sixabiso Klip, motorbestuurder van Maggie Titus.  Foto: Facebook

Deur Liesel le Roux
DIE vrou van stafsersant Preston Titus wat op 1 Desember verlede jaar in sy slaapkamer op Oudts­hoorn vermoor is, Magdaleen (Maggie) Titus (41), het volgens die pleitooreenkoms van Sixabiso Klip (23) die moord beplan en uitgevoer met die hulp van ’n aantal ander mense.

Klip is Vrydag (19 Januarie) tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan die moord op Preston Titus (47) en die besit van gevaarlike wapens. Hy het sedert Maart 2017 as motorbe­stuurder vir Maggie gewerk.

Maggie, ’n ANC-raadslid van Oudtshoorn en lid van die ANC se provinsiale uitvoerende komitee, en ’n vriendin van haar, Nathasia (Tessa) Stuurman (37), is Vrydag in hegtenis geneem en kom Maandag voor vir borgaansoeke.

Hulle was die afgelope Maandag reeds in die hof vir ’n eerste verskyning.

Dag van drama toe name bekend word

Ná meer as ’n maand se gissings op Oudtshoorn het die bekendmaking van die inhoud van die pleitooreenkoms Vrydag tydens Klip se verhoor gesorg vir ’n dag van hoogdrama in die hof.

Die ander mense wat deur die pleitooreenkoms by die moord betrek word, is Justice Mooi van Port Elizabeth, wat reeds in hegtenis geneem is en tans voorkom vir ’n borgaansoek, Natasha Stuurman, ene “Masimthembe January” van Port Elizabeth, wat nog deur die Polisie gesoek word. Daar word ook verwys na ’n “onbekende man” wat op 29 November saam met Mooi per taxi uit die Oos-Kaap na Oudtshoorn gereis het.

Die nuus dat ’n lasbrief vir die inhegtenisne-ming van Maggie Vrydag uitgereik is, het soos ’n veldbrand deur Oudtshoorn versprei. Nadat dit bekend geword het dat sy die middag op Barrydale in hegtenis geneem en die Polisie met haar op pad was na Oudtshoorn, het ’n skare belangstellendes voor die polisiekantoor in Baron van Reedestraat begin saamdrom. Baie van hulle het gejuig en ge­dans toe sy deur die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, die gebou binnegelei is. Sy was na ver­neem word per motor op pad na Kaapstad toe die Polisie die voertuig op Barrydale voorgekeer het.

R30 000 glo vir die moordenaars
Volgens die pleitooreenkoms van Klip het hy (Klip), Maggie en January in November op Maggie se versoek na Port Elizabeth gery waar hulle deur January aan Mooi voorgestel is. By hul terugkeer op Oudts­hoorn het Maggie aan Klip gesê sy het vir Mooi hulp gevra om haar man dood te maak. Mooi en die onbekende man sou na bewe-ring elkeen R30 000 vir die moord kry.

Volgens Klip het Maggie aan hom gesê hy sal ’n mooi Kersfeesgeskenk kry omdat hy die twee mans sal moet rondry aangesien hulle nie Oudts­hoorn ken nie.

Klip sê in sy pleitooreenkoms hy het Maggie in Maart verlede jaar ontmoet deur ’n vriend met wie Maggie ’n verhouding gehad het. Die naam van die man verskyn in die pleitooreenkoms. Klip was werkloos en Maggie het vir hom werk as motor­bestuurder aangebied. Volgens die verklaring het Klip vir Maggie gerespekteer, was sy baie goed vir hom en het sy vir hom soos ’n tweede ma geword. Hy het nooit haar besluite bevraagteken nie.

Mooi en die onbekende man het op 29 November per taxi na Oudtshoorn gereis en is die aand langs die begraafplaas afgelaai waar Klip en Maggie hulle opgelaai het. Hulle het tot 1 Desember, toe Titus vermoor is, by Stuurman oor­gebly.

Hulle het op ’n vraag van Maggie gesê hulle het nie vuurwapens gebring nie, maar messe en remvloeistof waarvan Maggie ’n paar druppels vir haar man moes ingee sodat hy kon slaap.

Glo drie keer na huis vir moord
Volgens die pleitooreenkoms het Klip die mans op die dag van die moord na ’n apteek geneem om slaappille en pepersproei te koop. Klip het op versoek van Mooi ook ’n hamer in die hande gekry.

Maggie het vir hulle gesê die kombuisdeur sal oop wees en dat haar oudste dogter nie die aand by die huis sal wees nie. Sy sou ook ’n raserige waaier in haar man se kamer aansit sodat hy en haar jongste dogter nie die mans sal hoor binnekom nie.

Mooi het die fyngemaakte pille vir Maggie gegee en vir haar gesê om dit in haar man se kos te sit.

Teen omstreeks 22:00 of 23:00 het Maggie hulle laat weet dat haar man slaap en hulle moet kom.

Klip het Stuurman se motor bestuur wat Mooi en die onbekende man op 1 Desember na Titus se huis geneem het. Hy het tydens die moord buite gewag. Dit was die derde keer dat hulle na Titus se huis is om die moord te pleeg. (Die eerste keer op 30 November het twee vriende van Titus daar oorgeslaap en het hulle besluit om dit eerder te los omdat hulle bang was die mans sou wakker word. Die tweede keer was vroeër op 1 Desember toe Titus alleen by die huis was. Titus het die deur oopgemaak toe Klip geklop en die twee Oos-Kaapse mans aan hom voorgestel het as “pastore van Port Elizabeth”. Hulle het egter dié poging laat vaar nadat Klip bure buite gesien het.)

Daar is ook gereël dat Maggie vir die derde probeerslag ’n selfoon, skootrekenaar, tablet en
R3500 in ’n sak langs ’n bank sal neersit wat hulle moet neem sodat die voorval na ’n rooftog sal lyk.
Klip sê in die pleitooreenkoms Maggie het hulle per sms laat weet dat dit veilig is om binne te kom.

Sowat 20 minute nadat die twee mans die huis binne is, het hulle teruggekeer na die motor.

Hulle het na Mosselbaai gery en langs die pad gestop met Mooi en die ander man wat iets in die bosse weggegooi het. (Die aanklaer in die saak, adv John Ryneveld van die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging – DOV, het Maandag tydens Mooi se borgaansoek daarop gewys dat bebloede klere, ’n hamer en twee messe – een met bloed op – langs die pad gevind is tydens ’n soektog deur die Polisie en SANW.)

Stuurman het per selfoon aan hulle gesê om na die Gateway Lodge op George te gaan waar Maggie vir die twee Oos-Kaapse mans verblyf vir die nag bespreek het.

Titus sterf weens 27 steekwonde
Ryneveld het tydens Mooi se borgaansoek verwys na ’n skulderkenning van Mooi waarin hy bevestig dat hulle met twee messe en ’n hamer gewapen was, en aangedui het dat Maggie self vir hulle die agterdeur oopgemaak het. Volgens Mooi het hy nooit die slaapkamer binnegegaan nie en net die sak met die selfoon, skootrekenaar, tablet en geld gevat voordat hy buite gaan wag het.

Ao Martin le Roux, ondersoekbeampte in die saak, het op ’n vraag van Ryneveld gesê Titus het sowat 27 steekwonde op verskillende dele van sy liggaam gehad – onder meer aan sy nek, rug, by sy aorta en linkerlong, en dat die onafhanklike na-doodse ondersoek getoon het sy dood is deur ’n stomp voorwerp en ’n skerp voorwerp veroorsaak.
• Lees nog ’n berig op oor die borgaansoek van Mooi.

Log in with your credentials

Forgot your details?