Mense steel terwyl winkel brand

Bo: Jessica Terblanche en haar vriend Mornè du Plessis gister op die plek waar die brand wat Timeless Trendz in puin gelê het, vermoedelik begin het. Jessica en haar ma, Erica, is die eienaars van die tweedehandse klerewinkel. Onder: Die gebou tydens die brand in vlamme en rook gehul. Foto’s: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
“TERWYL ons besig was om te probeer gryp wat ons kan, het mense op straat al ons kruideniers­wa­re en klere gesteel, asook my beursie uit my handsak. Ek kon dit nie glo nie!”

So vertel Jessica Terblanche (28) met trane in haar oë oor wat Vry­dagmiddag gebeur het toe ’n brand omstreeks 15:00 in haar en haar ma, Erica Knoetze (53), se tweedehandseklerewinkel, Timeless Trendz, op Oudtshoorn uitgebreek het.

Die gebou in Nuwestraat, noord van Adderleystraat in die middedorp waarin die winkel geleë was, is Vrydag in ’n kort tyd deur vlamme verswelg en verwoes.

Dis onduidelik hoe die brand ontstaan het, maar die plek in die gebou waar die brand vermoedelik ontstaan het, is Woensdag deur ondersoekbeamp­tes geïdentifiseer.

Volgens Terblanche was daar nie krag op die perseel nie omdat dit by die hoofbord in die huis langsaan afgeskakel is.

Die perseel waarop Timeless Trendz geleë is, behoort aan Maria van Aswegen en het voorheen ook Van Aswegens Begrafnisdienste langsaan ge-huisves.

Terblanche sê hulle het al hul voorraad verloor, asook hul kruideniersware wat in die winkel was.

Sy vertel haar vriend, Morné du Plessis (38), het soms wanneer hy vroeër by die werk klaargemaak het, ook daar gehelp.

“Ek en Morné het Vrydagmiddag net gou na Spar gestap om vir my pa melk te gaan koop. Toe ek by die groentewinkel kom, het ek rook gesien.

“Ek het vir Morné geskree dat hy moet hardloop”

Toe sy by die winkel kom, het Du Plessis haar ma reeds uit die gebou gehelp.

“Die gebou was reeds in rook gehul, maar my ma is weer in die winkel in om te probeer red wat te redde is.

Morné moes haar letterlik uit die gebou dra. Hy het haar lewe gered,” vertel Terblanche.

Knoetze het in die proses gelukkig slegs ’n brandwond aan haar arm opgedoen.

’n Oudtshoorniet wat agter die gebou woon, Caroline Porter (70), sê sy het op haar rusbank in die sitkamer gelê en slaap, en toe sy wakker word ’n rooi gloed by haar kombuisvenster gesien.

“Ek het gedink dat ek dalk my broodrooster aan vergeet het, maar toe hoor ek fyn kraakgeluide en het besef die venster is besig om te kraak.”

Porter het haar budgie, Chookie, gegryp en dadelik na die voorstoep geneem sodat hy kon wegkom van die brand en rook.

Terwyl die brandweer begin het om die vlamme te blus, het een van die grensmure langs Porter se huis omgeval.

Die gekraakte kombuisvenster het kort ná die aankoms van Die Hoorn in haar huis weens die hitte gebars.

Die brand was die middag teen vyfuur feitlik heeltemal geblus.

Van Aswegen het haar skok oor die brand uitgespreek.

“Ek voel vreeslik jammer vir die mense van Timeless Trendz. Hulle het hul bron van inkomste verloor.”

Volgens haar moes haar seun tydens die brand sy boerboel, Hitler, wat op die perseel bly, in sy arms na veiligheid dra.

Sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê skade van sowat R750000 is deur die brand aan die gebou aangerig, maar is niemand in die brand beseer nie.

Sy sê die Polisie het ’n navraagdossier oor die voorval geopen.