Meer as R500 000 se dwelms op R62

Deur Angelique Erasmus
DRIE mans van Oudtshoorn is Saterdag in Calitzdorp vasgetrek nadat R540 000 se tik in hul motor gevind is. Die drie mans, wat familielede is, en ’n Nigeriese man van Kaapstad was uit die Kaap se rigting na Oudtshoorn onderweg toe lede van die polisie se misdaadintelligensie-afdeling hulle in Barrydale begin agtervolg het.

Hulle is in Calitzdorp deur die polisie ingewag.

’n Dwelmhond is na die motor geneem en het die tik in die buffer van die motor, ’n groen Volks­wagen Polo, uitgewys. Daar is op 1,8 kg tik af­ge­kom met ’n straatwaarde van R540 000.

Die vier mans is op die toneel in hegtenis geneem en na die Calitzdorp Polisiekantoor geneem.
Pieter Ewerts, Lionel Ewerts, Jolan Melambo en Bruno Ezeamalukwue het Maandag vlugtig in die Calitzdorp Landdroshof verskyn, maar die saak is tot vandag (Donderdag) uitgestel sodat hulle vir regshulp kan aansoek doen.

• In nog ’n dwelmverwante voorval is vier mans van Ladismith Sondag deur die Ladismith Polisie in hegtenis geneem vir roekelose en nalatige bestuur en ook die handeldryf en die besit van dwelms. Andy Sass, Luano Aysley, Paul Plaatjies en Iahaan Classen (almal tussen 20 en 39 jaar) het Dinsdag in die Ladismith Landdroshof verskyn.

Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, het die polisie op 64 Mandrax-tablette en vyf sakkies dagga (bankies) beslag gelê.

Die gesamentlike waarde van dié dwelms is sowat R6 000.

Cederas sê die polisie het inligting opgevolg dat ’n silwer Toyota Tazz vanaf Oudtshoorn op pad is na Ladismith met vermoedelik dwelms in die motor. Toe die bestuurder van die Tazz die Ladismith Polisie sien, het hy ’n U-draai gemaak en teruggejaag in die rigting van Calitzdorp. Die polisie het die voertuig agterna gesit en gesien hoe die passasiers iets uit die motor gooi.

Die voertuig het later langs die pad gestop, met die bestuurder en ’n passasier wat die veld ingehardloop het. Hulle is egter deur die polisie aangekeer.

Log in with your credentials

Forgot your details?