Meer as 5 000 by begrafnis van beminde eerw Gerald de Klerk

Deur Garnett Wicomb
Daar kan nie oor eerw Gerald de Klerk gepraat word sonder om oor die apartheidstryd te praat nie, het die adjunk-minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Andries Nel, verlede Saterdag (5 Januarie) in sy huldeblyk aan die beminde predikant en stryder tydens sy begrafnisdiens in die Bridgton United Congregational Kerk (UCC) aan die meer as 5 000 begrafnisgangers gesê. De Klerk (79) is op Oukersaand na ‘n lang siekbed oorlede. Hy was meer as 40 jaar leraar van die Bridgton UCC waar hy in 1973 as jong leraar begin het.

‘n Groot aantal predikante, onder wie eerw Chris Nissen van die Menseregtekommissie, het die begrafnis bygewoon wat deur baie beskou word as die grootste nog in Oudtshoorn. Die diens is ook regstreeks oor die Suid-Kaap se grootste gemeenskapsradiostasie, Eden FM, uitgesaai. Die vieruurlange diens is deur die kerk se konsulent, eerw Andries Palmer, gelei met eerw Thulani Ndlazi, sinodesekretaris van UCCSA, wat die boodskap gebring het.

Nel het namens pres Cyril Ramaphosa, die regering en die leierskap van die ANC medelye aan die De Klerk-gesin, die kerk, die gemeenskap van Oudtshoorn, kamerade, vriende asook die leierskap van die plaaslike ANC oorgedra. Hy het de Klerk met ‘n kers vergelyk.

’n Kers brand nie minder helder omdat hy ander kerse aansteek nie, of omdat hy sy ligstrale met die wêreld deel nie. Hy was ‘n kers wie se leierskap geïnspireer en ander aangesteek het. ’n Kers wat ongeregtigheid, oneerlikheid, bedrog en korrupsie ontbloot het, wat liefde, geregtigheid en gelykheid uitgestraal het.

De Klerk se oudste seun, ook Gerald, het in sy huldeblyk aan sy pa ‘n steek ingekry na die kerk wat sy pa in sy laaste jare stief behandel en seergemaak het.

“Ek het kwaad en seergekry om hom so te sien. Vir hierdie kerk wat ons so seergemaak het.

“Ek wou van hom weet waarom die mense dit gedoen het, waarop hy geantwoord het dat ek my oë op Jesus moet hou. Hy het vir my gesê dat dit aardse dinge is en daarom begrawe ek vandag ook die hatigheid en seer in my.”


.

Eerw Johannes Stuurman van die Frank Kulsen Memorial UCC in Port Elizabeth, het ‘n beroep op die staat gedoen het om na die De Klerk-gesin om te sien. Hy het belowe om druk op Ramaphosa te plaas om ‘n huis aan De Klerk se eggenote te kom verskaf omdat hy ‘n vryheidstryd-veteraan was wat altyd vir ander gepraat het. Hulle woon tans in ‘n huurhuis.

Volgens Stuurman is De Klerk in die struggle-jare onder die mees haglike omstandighede aangehou. “Ons groet ‘n mensemens, liefdevol, nederig, en diep gelowig. Iemand wat by almal respek afgedwing het.”

De Klerk het aan die Hoërskool Môrester op Oudtshoorn gematrikuleer en teologie aan die Universiteit van Fort Hare studeer. Hy het sy bediening in Jeffreysbaai begin, is later na Port Elizabeth en ses jaar later na Oudtshoorn.

Hy word oorleef deur sy vrou, Jean, ‘n dogter, twee seuns, en vyf kleinkinders.

Predikante van die United Congregational Kerk het tydens ‘n roerende oomblik by die graf De Klerk se kis op hul skouers na sy laaste rusplek gedra.

Foto: Garnett Wicomb

Log in with your credentials

Forgot your details?