Man wat doodsteek skuldig aan manslag

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Rose Valley wat tereg gestaan het op ’n klagte van moord na die mesdood van sy voormalige meisie se nuwe vriend, is in die Oudtshoorn Streekhof aan strafbare manslag skuldig bevind.

Denrick Carelsen (25) het op tweede Kersdag 2017 vir Wilfred Heinrich Davids by een van die sogenaamde blinkhokke in Rose Valley gesteek, maar ontken dat hy hom wou doodmaak.

Hy het getuig dat Davids die betrokke dag die aggressor was toe hy met sy bromponie by die woning van sy voormalige meisie, Abby, aange­kom het en wou weet wat sy probleem is. Davids wou hom met ’n ketting slaan en hy het ’n mes uitgehaal en daarmee na hom gemik. Hulle het begin stoei en op die grond geval, waarna Davids die noodlottige steekwond opgedoen het.

Volgens Carelsen weet hy nie hoedat dit gebeur het dat Davids raakgesteek is nie omdat alles baie vinnig gebeur het. Hy het erken dat hy Davids op sy kop getrap het en dat dit verkeerd was.
Streeklanddros JC Nortje het in sy uitspraak ge­sê die hof kon nie bo redelike twyfel bevind dat die beskuldigde bedoel het om Davids te dood nie.

“Daar was wel verskille in die getuienis,” het die landdros gesê.

Die hof het nie die getuienis van die forensiese patoloog bevraagteken dat die oorledene een keer in die rug gesteek is nie. Volgens die hof het die oorledene vorentoe beweeg en die twee gestoei en baklei. Nie een van die staatsgetuies het egter getuig dat hulle op die grond rondgerol het nie.

“Die hof het die getuienis in totaliteit oorweeg en bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het. Die beskuldigde se optrede was we­der­regtelik verkeerd, maar die vraag is of hy opsetlik was om die dood te veroorsaak.

“Die beskuldigde het die oorledene se dood nalatig en wederegtelik veroorsaak en word aan strafbare manslag skuldig bevind,” het die landdros afgesluit.

Carelsen het geen vorige veroordelings en vonnisverrigtinge is uitgestel tot 8 April 2019.

Log in with your credentials

Forgot your details?