Man skuldig wat selfoon roof

Deur Garnett Wicomb
’n 22-jarige man van Oudtshoorn wat ’n soldaat van sy selfoon en ander besittings beroof het, is in die streekhof aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind met vonnisverrigtinge wat tot Juliemaand uitgestel is.

John Rodicus en ’n onbekende persoon wat nie voor die hof gebring is nie, het die soldaat helder oordag in ’n stil straat naby die Infanterieskool voorgekeer en gevra om ’n oproep met sy selfoon te maak.

Tydens ’n struweling wat gevolg het, is ’n mes uitgehaal en die soldaat in sy hand gesteek toe hy probeer keer het.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het vir ’n vonnis van ten minste sewe jaar tronkstraf gevra omdat Rodicus nie ’n eerste oortreder is nie en hy nie kanse om te rehabiliteer aangegryp het nie.

Hy toon ook geen berou nie en het ten spyte van oorweldigende getuienis volgehou dat hy onskuldig is.
Hy het gesê die klaer het sy vingers nodig om skietoefeninge te doen en ondervind tans erge probleme.

“Die beskuldigde was ten tyde van die insident op parool en op ’n plek waar hy nie moes gewees het nie. Hy het daarom net homself te blameer vir die bootjie waarin hy tans is.”

Rodicus se regshulpprokureur, Eugene Roos, het toegegee dat hy aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is.

Hy het egter die hof versoek om Rodicus se jeugdigheid vir vonnisoplegging in aanmerking te neem.
Volgens Roos sal ’n vonnis van tussen vyf en agt jaar ’n boodskap uitstuur dat sy gedrag nie verder geduld sal word nie.

Streeklanddros Retha Pretorius het bevind dat Rodicus en sy maat beplan het om die klaer te beroof. Sy het gesê hy was ’n swak getuie en dat dit duidelik is dat hy nie sy regsverteenwoordiger oor alles ingelig het nie en daar eers in die hof gehoor is van die messtekery.

Die hof het sy weergawe as vals en leuenagtig bevind en hom skuldig bevind soos aangekla.
Die saak is vir vonnisverrigtinge tot 17 Julie 2019 uitgestel.

Log in with your credentials

Forgot your details?