Tien jaar vir man wat Joncks se bakkie in Oewersig steel

Regs is die toneel waar die dief in ’n kragpaal vasgejaag het. Foto verskaf

’N MAN van Umtata wat in Mei verlede jaar ’n bakkie op Oudtshoorn gesteel het, is in die streekhof aan voertuigdiefstal skuldig bevind en tien jaar gevangenisstraf opgelê.
Lulama Kolisi (32) is in die vroeë oggendure van 8 Mei 2018 in Rademeyerstraat in hegtenis geneem nadat ’n polisiehond hom tussen die riete in die Grobbelaarsrivier vasgetrek het.
Kolisie het omstreeks vieruur die oggend die Isuzu-bakkie van Lodewyk en Nadia Jonck in Oewersig gesteel en daarmee probeer wegjaag.
Hy het in Jan van Riebeeckweg met ’n lamppaal gebots toe hy van ’n polisievangwa wou wegkom en te voet verder gevlug.
Ao Lardus Homann van die Attakwa Honde-eenheid het getuig dat sy hond Kolisi in die rivier gevind het waar hy tussen riete in die water weggekruip het.
Kolisi het hom teengesit en is in die proses deur die hond gebyt.
Kolisi het onskuldig gepleit en getuig dat vriende van Bongolethu hom in Langenhovenweg afgelaai het waar hy ’n rygeleentheid na George sou soek. Terwyl hy daar gewag het, is hy deur die polisie in hegtenis geneem en deur ’n polisiehond gebyt.
Hy het ontken dat die handteke­ning op ’n waarskuwingsverklaring syne is en gesê dat sy regte ook nie aan hom voorgehou is nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het sy getuienis as vals verwerp. “Voertuig­diefstal het ’n groot probleem in die land geword en mense ly groot skade as gevolg van die diefstal van hul voer­tuie,” het die landdros met vonnisoplegging gesê.
Kolisi is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Hyron Goulding het vir die staat verskyn en Wenzel Botha in opdrag van die regshulpraad vir Kolisi.

Deur Garnett Wicomb