Maleme-Thema skuldig aan rassisme

Deur Liesel le Roux
DIE generaal-majoor wat in 2016 landwyd opskudding veroorsaak het met haar uitlatings teenoor opleidingsbeamptes van die Oudtshoorn SAPD Akademie is deur die SAPD skuldig bevind aan rassisme en summier afgedank.

Die SAPD het bevind dat genl maj Sandra Malebe-Thema, hoof van basiese polisie-ontwikkeling, se uitlatings op 7 November 2016 rassisties was.

Malebe-Thema het die betrokke dag wit opleidingsbeamptes in siviele drag voor sowat 450 studente op die verhoog laat staan waarna sy hul kleredrag en gewig gekritiseer het. Die studente het na bewering hieroor gelag en die beamptes uitgejou.

Solidariteit het in November 2016 ’n klag by die Menseregtekommissie in Kaapstad ingedien en in Mei 2017 hulle na die Arbeidshof gewend en so die SAPD gedwing om Malebe-Thema se optrede intern te ondersoek.

Volgens Anton Van der Bijl, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, is tydens die interne SAPD-ondersoek gevind dat Malebe-Thema geen berou getoon het oor haar optrede nie en het sy volgehou dat sy niks verkeerd gedoen het nie.

Die interne SAPD-ondersoek het bevind dat haar selektiewe opmerkings emosionele skade veroorsaak het by die personeellede betrokke en ’n negatiewe invloed op hul werk en persoonlike lewens gehad het.

• Die moontlikheid bestaan nou ook dat Malebe-Thema privaat vervolg kan word.

Volgens Renate Barnard, regsbeampte by Solidariteit, is adv Gerrie Nel tans besig om die saak te bestudeer met die oog op moontlike privaatvervolging. Dit volg nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier het om Malebe-Thema te vervolg.

• Lees ook die brief van die psigiater dr Clifford van Wyk op bl 5.

Log in with your credentials

Forgot your details?