Magdaleen hou vol sy het vas geslaap tydens moord in kamer langsaan

Regter Nolwazi Boqwana en adv Chris van der Vijver (staatsaanklaer) tydens ‘n ter plaatse ondersoek aan die begin van die moordsaak. Foto: Garnett Wicomb.Deur Garnett Wicomb

Sy het nie toegekyk hoe haar man die aand van 1 Desember 2017 in sy slaapkamer vermoor is nie, het Preston Titus se vrou, Magdaleen Titus, Vrydagoggend (8 November 2019) in die rondgaande hooggeregshof op Oudtshoorn getuig.

Die staatsaanklaer, adv Christhénus van der Vijver, het dit aan Titus gestel dat dit hoogs onwaarskynlik is dat sy vas aan die slaap kon wees terwyl haar man in die kamer langsaan brutaal, wreed en genadeloos vermoor is,  maar kort daarna hoor hoe haar dogter van buite die huis roep dat hulle die deur vir haar moet oopmaak.

Van der Vjver het dit voorts aan Titus gestel dat alle selfoonkommunikasie tussen haar en Sixabiso Klip, wat reeds vir sy aandeel in die moord gevonnis is, om 22:53 die aand beëindig is en sy om 23:20, sowat ‘n halfuur later, weer ‘n oproep van Sixabiso Klip vanaf die Kandelaarsrivier-gebied op die Mosselbaaipad ontvang het.

Dit is daar waar die bebloede klere van die moordenaars en die moordwapens gevind is.

Titus het die talle sms-boodskappe tussen haar en Klip gedurende die Vrydag van die moord erken, maar gesê dat sy nie kan onthou waaroor dit gegaan het nie.

“U het ‘n baie selektiewe geheue mevrou Titus. Sommige dinge kan u baie goed onthou maar ander nie. U kan nie op twee stoele sit nie,” het Van der Vijver gesê.

Volgens Titus was haar aandag meestal op die ANC-konferensie wat sy die Saterdag op Worcester sou bywoon.

“Ek stel dit aan u dat dit hoogs, hoogs onmoontlik kan wees dat u gedurende die sowat ‘n halfuur dat u en Klip se selfone onaktief was, so vas geslaap het dat u nie kon hoor wat in u man se slaapkamer aangaan nie.”

Titus het erken dat sy omstreeks 22:53 op die betrokke aand ‘n laaste oproep van ‘n onbekende nommer ontvang het en toe weer om 23:20 vanaf Klip se selfoon vanaf die Kandelaarsrivier-omgewing.

Van der Vijver het dit ook aan Titus gestel dat dit alles inpas by Klip se getuienis dat dit dieselfde tyd was toe hy vir Mooi en nog ‘n man wat nooit opgespoor is nie, by haar huis afgelaai en na afloop van die moord na Mosselbaai geneem het.

“Dit is nooit te laat om verskoning te vra nie. Ons almal maak een of ander tyd ‘n fout. Ek kan sien u wil iets sê,” het Van der Vijver aan Titus gesê.

“Nee meneer. Dis die waarheid. Ek was teen daardie tyd vas aan die slaap en het niks gehoor nie,” was Titus se antwoord. 

Regter Nolwazi Boqgwana het die saak vir voortsetting tot Maandag, 11 November, uitgestel en Titus, Natasha Stuurman, en Masithembe January se borgtog verleng.

Mooi bly in aanhouding.

 

Log in with your credentials

Forgot your details?