Ma van vyf skuldig aan strafbare manslag

Deur Garnett Wicomb
Die vonnisoplegging van ’n vrou van Matjiesri-vier,’n ma van vyf kinders, wat haar buurvrou met ’n mes in die bobeen gesteek waarna sy doodgebloei het, is Maandag in die Oudtshoorn Streekhof uitgestel omdat korrektiewe toesig- en proefbeampteverslae nog uitstaande is.

Junene Coerecius (36) is van moord op haar buur­vrou, Brenda Minnies (41), aangekla, maar het onskuldig gepleit omdat sy nie die opset gehad het om Minnies dood te maak nie.

Sy is aan strafbare manslag skuldig bevind.

Coerecius sê in haar pleitverduideliking dat sy op die betrokke Sondag besig was om ’n hoender vir ete voor te berei toe Minnies haar valslik beskuldig het dat dit haar hoender is wat sy gesteel het.

Minnies het volgens Coerecius haar soos gewoonlik weer uitgeskel.

Sy was die vorige week in die hospitaal nadat Minnies haar met ’n mes gesteek het.

Minnies het dié keer met ’n sker na haar gesteek waarna Coerecius die huis in is om die mes te gaan haal waarmee sy besig was om te werk.

Sy het Minnies met dié mes gesteek.

“Dit is al jare dat sy my verneder wanneer sy dronk is en ek het kwaad geword,” lui Coerecius se verklaring.

“Ek wou haar net beseer.”

Coerecius het aanvanklik nie haar eie pleitverduideliking verstaan nie en die hof is verdaag sodat haar regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, dit weer aan haar kon verduidelik.

Hierna het Botha die hof vir ’n opgeskorte vonnis gevra sodat Coerecius na haar kinders kan kyk.

Sy sien ook om na die twee kinders van die oorledene wie se familie haar vergewe het.

Haar kinders se biologiese pa is werkloos en lewer geen finansiële bydrae nie.

Volgens die staatsaanklaer, Willem Vister, sal ’n geheel opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig ’n verkeerde boodskap uitstuur.

Hy het die hof gevra om ’n vonnis ingevolge Art 276 (1) (i) op te lê.

“Geweld het vandag die norm geword om pro-bleme op te los en dit gebeur veral oor naweke wanneer mense te veel drink en te gou skerp voorwerpe gryp om mekaar te steek,”

Coerecius is nie ’n eerste oortreder nie.

Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.

Log in with your credentials

Forgot your details?