Liggaam in dam dié van vermiste Tok

Julie Tok (72) Foto Facebook

Deur Angelique Erasmus
DIE Calitzdorp Polisie is Maandag om 09:00 na die Cloetedam net buite Calitzdorp ontbied nadat ’n liggaam in die dam opgemerk is.

Die liggaam is uit die dam verwyder en ’n nadoodse ondersoek is gedoen.

Die liggaam is Woensdag as die van Julie Tok (72) van die dorp uitgeken. Hy is op 1 Oktober as vermis aangemeld.

Hy is laas opgemerk waar hy langs die R62 geryloop het. Hy het ’n swart hemp, swart sweetpakbroek en tekkies aangehad.

Volgens kapt Meyer, woordvoerder van die Calitzdorp Polisie, word geen gemene spel vermoed nie.

“Die liggaam kon nie onmiddelik uitgeken word nie weens die gevorderde ontbindingsfase waarin dit was toe dit gevind is,” sê hy.

Tok het aan epilepsie gely en was ook verstandelik gestrem.