Hoërskool Calitzdorp se landbou-leerders floreer!

Die Hoërskool Calitzdorp se skoumanne wat aan jeugskoue deelneem. Hier by die Heidelberg Jeugskou is voor van links Dewald Loedick, Enslin Ewerts, Juwaylin Dilman en Kyle Joseph, en agter van links Junice Piedt, Zenneil Murphy, Frederick Loedick, Shamile Jafta, Jamiel Claasen en Wesley Claassen.

Verbruikerstudieleerders van Calitzdorp het saam met die skool se landbou-afdeling verlede maand en vandeesmaand aan die jeugskoue op Riversdal, Heidelberg en Swellendam gaan deelneem en uitstekend in die kullinêre kuns-afdeling gevaar deur die eerste vier plekke te wen. Die wenspan is van links Henzel Kok (eerste), Cathlyn Julies (tweede plek), Tessa April (derde) en Jamie-Lee Lucas (vierde). Dié vier het deurgedring na die Wes-Kaapse Jeugskou-kampioenskap wat vandag en môre op Bredasdorp plaasvind.

 

Deur Schalk le Roux

SEDERT die Hoërskool Calitzdorp in 2017 ’n landbou-afdeling by die skool begin het, gaan dié afdeling van krag tot krag en floreer die landbouleerders behoorlik!

Die landbou-afdeling is die geesteskind van Gerrit Huysamen, ’n opvoeder by die Hoërskool Calitzdorp.
Huysamen vertel hy het siviele tegnologie as vak by die skool aangebied toe hy einde 2016 verneem dat die skool nie meer dié vak kon aanbied nie weens bepaalde vakkeusevereistes.

Nadat hy deeglike navorsing gedoen het, het hy voorgestel dat landboutegnologie van 2017 aan graad 10-leerders aangebied word met die gedagte om die Hoërskool Calitzdorp ’n landboufokus-skool te maak.

Om ’n landboufokusskool te raak, moet diere- en plantvakke aangebied word, en die skool moet oor plaasgeriewe beskik. Gelukkig besit die skool ’n aangrensende stuk landbougrond met landerye, wat in die verlede aan boere verhuur is.

Huysamen het eers met die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) gaan praat wat hom na die Nasionale Departement van Onderwys (NDO) verwys het.

Nadat hy sy voorstel om die skool na ’n landbouskool om te skakel met geesdrif en oortuiging oorgedra het, het die onderwysdepartemente ingestem om dit te doen.

In Junie 2018 is die skool toe tot ’n landbou-fokusskool verklaar. ’n Bykomende onderwysers-pos, ’n voormanpos en twee arbeidersposte is aan die skool toegeken – die eerste keer in ’n baie lang tyd dat die skool nuwe poste bygekry het.

Die befondsing vir die poste is van die NDO deur die WKOD na die skool gekanaliseer. Benewens landboutegnologie word daar sedert begin vanjaar ook landboubestuur as vak aangebied.
Daarna het dinge begin gebeur danksy die befondsing wat hulle vir verskeie projekte gekry het.

Werkswinkel en staalwerkstafels
In Julie verlede jaar is met die bou van ’n werkswinkel by die skool begin. Hoewel daar kontrakteurs aangestel is, het die leerders ook gehelp met die bouwerk en is dit drie maande later voltooi.

Nadat hulle touwys gemaak is met sweistegnieke, het die leerders hul eie staalwerktafels vervaardig. “Die leerders was baie geesdriftig! Wanneer ek sesuur soggens by die skool aankom, was van hulle al daar, reg om hand by te sit met die bouery en om te sweis,” vertel Huysamen.

Groentetonnels gebou en beplant
Volgens hom het die skool ook befondsing gekry vir groentetonnels by die skool. “Daar is in Januarie met die voorbereiding vir en oprig van die tonnels begin. Ook hier het ons leerders hand bygesit. “By voltooiing van die tonnels het ’n tuinboukundige die leerders touwys gemaak hoe om te plant en het ons dadelik spinasie en verskeie ander groente begin plant. Ons het so pas ’n pragtige spinasie-oes afgehaal, en is dit aan plaaslike mense en besighede bemark. Dit is alles deel van ons kurrikulum.”

Volgens Huysamen word die inkomste wat uit die oes verkry word, weer in die landbou-afdeling teruggeploeg. Daar is vandeesmaand ook tamaties en beet in die tonnel geplant.

Sterk water raakgeboor
Danksy verdere befondsing is daar ook begin vandeesmaand vir water geboor aangesien die skool weens die droogte nie meer munisipale water kon gebruik nie. Huysamen vertel hulle het drie dae nadat hulle naby die skoolkoshuis begin het, water raakgeboor – 20000 liter per uur. Twee dae later het hulle laer af by die landerye weer water raakgeboor, dié keer 15000 liter per uur.

Hoewel die boorgatwater brak is, is daar ook daarvoor ’n oplossing gevind. Huysamen vertel hy het navorsing gedoen asook navrae by kundiges. Die water kry nou osoonbehandeling wat die natriumcloried (sout) in die water opbreek sodat dit ná die behandeling voedsaam vir die plante is. Die behandelde water word vir besproeiing gebruik.

Die boorgat by die koshuis se pomp word met sonkrag aangedryf.

Die landbouleerders het ook begin om ’n ronde sementdam by die tweede boorgaat te herstel en skoon te maak om dit later vir besproeiingsdoeleindes te gebruik.

Leerders as skoumanne opgelei
Huysamen sê aan die dierekant het sy landbou-afdeling in Januarie met “skoumanopleiding” begin met die oog daarop om aan jeugskoue deel te neem. Hulle het besluit om die opleiding met angorabokke te doen, nie net omdat hulle saggeaard is nie, maar ook omdat winsgewend met hulle geboer kan word.”

Willie Barry, wat met angorabokke boer, het dadelik ingewillig dat hulle met sy bokke kan oefen, en om ook met die opleiding te help.

Al tyd wat vir die opleiding gevind kon word, was soggens van vyf- tot seweuur. “Ek kan nie glo hoe die leerders, wat nog nooit voorheen met diere gewerk het, dit geniet het en watter toewyding hulle aan die dag gelê het nie. Dit het duidelik ook baie vir hul selfbeeld en selfvertroue beteken,” vertel hy.

Harde werk werp vrugte af
En hul harde werk het gou vrugte afgewerp.

Twaalf van die leerders het sedertdien aan jeugskoue op Heidelberg, Riversdal en Swellendam deelgeneem en verskeie eerste plekke in hul afdelings gewen. Hulle het meege-ding teen leerders van onder meer die Hoër Landbouskool Oakdale.

Agt van die skoumanne van die Hoërskool Calitzdorp het gekwalifiseer vir die Wes-Kaapse Jeugskou-kampioenskap wat vandag en môre (21 en 22 Maart) op Bredasdorp plaasvind. “Ons het egter besluit om nie al vanjaar deel te neem nie, omdat ons leerders nog nie volledig opgelei is nie. Ons leerders sal volgende jaar reg wees.”

Die landbou-afdeling is ook besig om bokkrale te bou waar hulle met hul eie angorabokke gaan boer.

Aquaponics-afdeling bekyk
Volgens Huysamen is hy besig om ondersoek in te stel na ’n aquaponics-eenheid vir die skool om met telapia-visse te boer. “Daar is nie net ’n goeie mark vir dié visse nie, maar hul mis is boonop baie goeie bemesting. Dit pas baie goed in by ons besluit om organies te boer,” sê hy.

Hy sê in retrospek is dit eintlik ’n bedekte seën dat die skool landbouvakke in die plek van siviele tegnologie begin aanbied het.

Huysamen het groot dank uitgespreek teenoor veral vier boere, Willie Barry, Fanie Geyser, Koos Potgieter en Klein Jan (Johan) Nel, vir hul steun aan die skool se landbou-afdeling.

Landbouleerders vroegoggend besig met skoumanopleiding.

Landbouleerders het uitgeblink by die jeugskoue.

Klein maar getryn! Twee van Calitzdorp se trotse jong skou- manne spog met hul bokke!

Die landbouleerders het hand bygesit met die span van drade tydens die bou van die angorabokkrale.

Die landbouwerkswinkel in aanbou.

’n Leerder doen sweis-werk aan ’n werkstafel.

’n Plantboukundige maak die landbouleerders touwys hoe om te plant.

Die spinasie in die tonnel is ge­reed en word geoes.

Water word raakgeboor.

Landbouleerders besig om ’n sementdam skoon te maak vir besproeiing.

Spinasie geplant.

Die landbou-afdeling se leerders is nie bang om skouer aan die wiel te sit nie!