Landdros sê nee vir Gordon

Oud-burgemeester wil nou na hoër hof

Gordon April in die dae toe hy nog in die burgemeesterstoel op Oudtshoorn gesit het.         Foto: Schalk le Roux

Gordon April in die dae toe hy nog in die burgemeesterstoel op Oudtshoorn gesit het. Foto: Schalk le Roux

Deur Garnett Wicomb
DIE voormalige burgemeester van die Groter Oudtshoorn, Gordon April, wie se aansoek om teen sy skuldigbevinding en vonnis te appelleer Dinsdag in die Oudts­hoorn Streekhof van die hand gewys is, gaan nou die Hooggeregs­hof nader.

April se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het gister gesê hy gaan nou namens April ’n petisie aan die regterpresident van die Kaapse Hooggeregshof rig.

’n Atmosfeer van verslaentheid het Dinsdagmiddag in die hof geheers toe April gehoor het sy aansoek word van die hand gewys. Die uitspraak van streek­landdros Mark van Wyngaardt, wat die aansoek aangehoor en steeds met siekte­verlof is, is deur streeklanddros Daniel Boks voorgelees.

April is op 5 April tot effektiewelik vyf jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy aan diefstal van sand en klip van die Oudtshoorn Munisipaliteit, die onwettige gebruik van munisipale voertuie, intimidasie en poging tot regsverydeling skuldig bevind is. Hy was sedert dié datum in die gevangenis en het gehoop om borgtog te kry indien sy aansoek tot verlof om appèl suksesvol is.

Van Wyngaardt se uitspraak lui dat geen aspek tydens die verhoor van die lang uitgerekte saak oor- of onder be­klem­toon is nie en dat hy van me­ning is dat ’n ander hof nie tot ’n ander bevinding sal kom nie.
Die staatsaanklaer, Tommy Verreyne, wat April se aansoek teengestaan het, het die hof meegedeel dat reëlings met die hooflanddros en die streek­hof­koör­di­neer­der, JC Nortje, getref is dat Van Wyn­gaardt se uitspraak in belang van gereg- ­tigheid skriftelik deurgegee moet word vir afhandeling.

Ten opsigte van die vonnis van nege jaar gevangenisstraf, effektiewelik vyf jaar, lui die landdros se uitspraak dat daar geen ongerymdhede was en dat die vonnis nie skokkend hoog is nie.
“Daar is volgens my geen gronde dat ’n ander hof tot ’n ander bevinding sal kom nie en word die skuldigbevinding en vonnis van die hand gewys.

• Familielede en ondersteuners van April het verlede Woensdag voor die landdroshof betoog teen die vertraging van die uitspraak weens die siek­te van die betrokke landdros. (Foto onderaan die berig.)
“Verkragters en moordenaars loop buite rond, maar steel jy ’n stokkielekker dan kry jy vyftien jaar,” het April se skoonpa, Shepstone Billy, tydens die betoging van hom laat hoor.
Saam met Billy, voormalige OD-raadslid, en Elaine September, voormalige NPP-raadslid, was ook Gaven Juthe, huidige Sarco-raadslid in die munisipaliteit.

Familielede het binne die hofsaal toe die saak weer uitgestel is na die verdere uitstel van die saak hul misnoeë luidkeels te kenne gegee. “Dis diskriminasie!” het ’n vrou geskree.

Gordon April in die dae toe hy nog in die burgemeesterstoel op Oudtshoorn gesit het.         Foto: Schalk le Roux

Gordon April in die dae toe hy nog in die burgemeesterstoel op Oudtshoorn gesit het. Foto: Schalk le Roux

Log in with your credentials

Forgot your details?