Ladismith-man kry lewenslank vir moord

Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Ladismith wat aan moord, verkragting en gesinsgeweld skuldig be­vind is, is in die streekhof op Ladismith tot lewenslange gevangenisstraf vir moord en tien jaar vir verkragting gevonnis.

Die 49-jarige Willem Botha, wat voordat sy verhoor kon begin by ses geleent­hede van regsverteenwoodiger verander het, is daaraan skuldig bevind dat hy op Nuwejaarsdag 2016 die 37-jarige Sarah January verkrag en daarna met ’n groot klip teen die kop gekap en sy gesterf het. Botha het January agtervolg toe sy hom gewaarsku het dat sy ’n saak teen hom by die polisie gaan indien.

Hy het haar later by ’n sjebien raakgeloop.

Hy het skuld ontken op ’n aanklag van moord, maar wel skul­d beken op ’n alternatiewe aanklag van strafbare manslag omdat hy nie bedoel het om January dood te maak nie.

Hy is ook daaraan skuldig bevind dat hy ’n beskermingsbevel ver­ontagsaam het wat sy saamleefmaat, Ella Prins, verkry het.

Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir twee le­wens­lange vonnisse gevra omdat geen wesenlike of dwing­ende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk nie.

Botha se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Pretorius, het betoog dat ’n vonnis van 20 jaar ’n gepaste vonnis sal wees.
Streeklanddros LA Wilkens het Botha die maksimum vonnis vir ’n wrede moord opgelê, 10 jaar vir verkragting en ’n boete van R500 of drie maande gevangenisstraf. Die hof het gelas dat die vonnisse samelopend uitgedien kan word en Botha is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Log in with your credentials

Forgot your details?