Laaste kans vir Saterdag se skouspel!


Laatslapers het nog tot Saterdag 12:30 die geleentheid om kaartjies by PostNet Oudtshoorn te koop vir Klassieke Klein Karoo Kersfees wat Saterdag op die uitvoer-granaatplaas Celebratio aangebied word.

Kaartjies sal ook Saterdag vanaf 17:30 by Celebratio se hek te koop wees. Vir navrae skakel gerus 0828027138.

Konsertgangers hoef geen grondpad te ry om by die plaas uit te kom nie. Dit is reg langs die sementpad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp geleë.

Daar is al sowat 600 kaartjies verkoop en mense kom van so ver as Barrydale, Stilbaai, Swellendam en Mosselbaai om dié besonderse konsert by te woon.

Daar is die afgelope twee weke lang ure en laat­aande op Celebratio ge­werskaf om alles gereed te kry vir Saterdag se eerste Klassieke Klein Karoo Kersfees.

Konsertgangers kan reeds van 17:15 af toegang kry en gesellig verkeer saam met vriende en fami­lie met iets te ete by die stalletjies van Karooboom, Nostalgie en Bella Cibo. Liquourland, Black Mountain Gin en Calitzdorp Wynkelders sal sorg vir iets te drinke.

Die konsert begin om 19:15.

Die kunstenaars Kevin Leo en Corlea Botha sing die aand van hul gunsteling- klassieke en Kers­treffers. Hulle word begelei deur ’n klas­sieke orkes onder leiding van Paul Loeb van Zui­lenberg en ’n plaaslik saamgestelde koor onder leiding van Marinda Bothma-Schutte.

Die klank- en beligtingsingenieurs het reeds gister (Woensdag) begin om die klank- en beligtingtoerusting te installeer om te verseker dat die aand ’n ware skouspel sal wees.

Die Klein Karoo se sterrehemel sal die perfekte dak wees waaronder hierdie klassieke buitelug-kers­konsert plaasvind.

Kaartjies is beskikbaar by PostNet in die Queens Mall op Oudtshoorn en telefoniese besprekings kan gedoen word by 082 802 7138. Kaartjies sal ook nog die aand van die vertoning by die hek te koop wees.

Kaartjiehouers word versoek om betyds op te daag vir die parkering. Aangesien dit ’n buite­lug-konsert is, sal dit raadsaam wees om iets warms saam te vat. Alle sitplekke is gereserveerd en op stoele. Geen verversings mag ingebring word nie.

“Kom beleef ’n klassieke ervaring onder die Klein Karoo se sterrehemel,” sȇ Gerhard Meyer, eienaar van Celebratio wat die konsert organiseer.

Die Hoorn is die mediaborg vir die konsert.

Log in with your credentials

Forgot your details?