Kuierplek-moord – verhoor wag tot 2019

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ’n man wat daarvan aangekla word dat hy op Kersfeesaand 2016 ’n jong man in die Face da Bass-nagklub op Oudtshoorn doodgesteek het, is na die getuienis van die geneesheer wat die nadoodse ondersoek behartig het, vir verdere getuienis tot volgende jaar uitgestel.

Alfonso Malgas staan in die Oudts­hoorn Streekhof, tereg op ’n klagte van moord na die dood van die 19-jarige Adrian Oliphant.

Malgas pleit onskuldig omdat hy uit selfver­dediging opgetree het.

Volgens sy regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, sal Malgas getuig dat hy die betrokke aand deur ’n groep vriende van die oorledene aan­geval en glo blindelings na hulle ge­steek het.

Hy is nie seker of hy enigeen raakgesteek het nie.

Dr Christa Hattingh, ’n forensiese patoloog, het verlede week getuig dat Oliphant verskeie steekwonde opgedoen het. Die wonde is volgens haar af­waarts toegedien met ’n steekwond in die nek wat tot Oliphant se dood gelei het.

Haar afleiding is dat die oorledene wou keer dat hy raakgesteek word.

Die saak word deur streeklanddros Retha Pretorius aangehoor.

Dit is vir verdere getuienis tot 31 Januarie 2019 uitgestel.

Log in with your credentials

Forgot your details?