Kuber-pornoboef laat oë rek

WhatsApp-groepe geteiken

Deur Angelique Erasmus
TWEE Whatsapp-buurtwaggroepe wie se lede in Wesbank in Oudts­hoorn woon, was Maandag in die vroeë oggendure die slagoffer van ’n kuber-pornoboef.

Dié kuberboef het onder ’n vals profiel “Nadia” en met ’n vals foto toegang tot die groepe verkry en begin om tientalle pornografiese en ander walg­foto’s daarop te plaas.

Die kuberboef het ook beide groe­pe se naam na ’n erg obsene naam ver­ander. Meer as 60 foto’s is uiteindelik deur die “Nadia” gedeel.

Volgens Fanie Erasmus, voorsitter van die Wesbank Buurtwag, is die Wesbank-Suid 1-noodgroep en die Wesbank-Noord-groep deur dieselfde persoon “oorgeneem”.

Groeplede het erg ontsteld op die voorval ge­rea­geer.

Een van die ­lede het geskryf dat sy veral ook ontsteld was omdat haar seun, wat ook op die groep was, die foto’s ontvang het.

’n Ander groeplid het gesê dat hy nie geweet het daar bestaan sulke walglike foto’s nie.

Volgens Erasmus het hy Dinsdag sy verklaring gefinaliseer en ’n klag by die Oudtshoorn Polisie ingedien.

“Ons het reeds ’n saaknommer van die polisie ontvang,” het hy gister gesê.

Die kuberkraker het vermoedelik toegang tot die groepe gekry voordat die sekuriteit daarvan vroeër vanjaar verskerp is en inwoners moes begin het om aansoek te doen om deel daarvan te wees.

“Daar is in die begin ’n skakel uitgestuur en ons vermoed die persoon het so toegang gekry,” sê Erasmus.

Hy sê die groepe bestaan al sowat ’n jaar en het nog nooit probleme van die aard ondervind nie.

Volgens kapt Wynand du Plessis, bevelvoerder van Sektor 3 waarbinne Wesbank val, sal stappe gedoen word om die persoon op te spoor en te vervolg.

Altwee groepe is intussen verwyder en nuwe groepe gestig.

Log in with your credentials

Forgot your details?