Kortfilm vertel storie van hoop

Die jong rolprentmakers is voor van links Yu’ené Hector, Julio Booysen en Duwayne Murphy. Agter van links staan: Waylin Coetzee, Chad Louw, Dominique Oktober en Garth Booysen. Foto Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
DIE inspirerende storie van Shawn Ferreira, voorheen ’n bendelid maar deesdae voltyds advokaat op Oudts­hoorn, is deur sewe plaaslike rolprentgeesdriftiges in ’n kortfilm vas­- ge­vang.

Die kortfilm wat te sien is op YouTube, A New Chapter, was deel van ’n voorlegging van dié sewe en een van net vier voorleggings wat gekies is om in ’n kort­film omskep te word.

Yu’ené Hector (19), Julio Booysen (19), Duwayne Murphy (24), Waylin Coetzee (22), Chad Louw (22), Dominique Oktober (22) en Garth Booysen (24) het oor drie maande almal ’n intensiewe kursus oor rolprentmaak by iKasi Media in George bygewoon.

Daar het hulle die basiese beginsels van kamerawerk, klank, produksie, redigering en die skryf van ’n draaiboek geleer.

Die sewe is van Oudtshoorn en Dysselsdorp, en vertel almal hulle het reeds op skool ’n passie vir die kuns­te gehad.

Chad het as skrywer en regisseur van die kortfilm opgetree met ondersteuning van die res van die groep as die “crew”.

Die hele film is in Dysselsdorp vervaardig.

Tydens die onderhoud is die klomp se liefde vir die bedryf duidelik, met meeste van hulle wat op skool reeds betrokke was by produksies en die neem van foto’s.

• Duwayne het in 2012 deelgeneem aan ’n tiener-dramakompetisie, waartydens plaaslike inwoners kon mee­ding vir ’n rol in die rolprent Klein Karoo.

Hy vertel hy wil graag in die toekoms sy eie produksiemaatskappy begin en graag plaaslike stories vertel.

• Chad was op skool die regisseur en aanbieder van die I-School Press-span by Dysselsdorp Sekondêr, en nou gaan hy saam met die ander ses wat saam met hom gewerk het aan A New Chapter, deelneem aan ’n 48 uur-rolprentprojek in Augustus in Johannesburg.

Die hele groep gaan saam as produksie­span. Deelnemers het 48 uur om hul konsep voor te lê, te verfilm en te redigeer.

“Ek wil graag aan jongmense wys jou omstandighede bepaal nie jou toekoms nie,” sê Chad.

• Yu’ené het van jongs af ’n liefde vir fotografie gehad en dit as ’n stokperdjie beoefen. Sy droom is om eendag ’n vryskutfotograaf te wees.

• Julio Booysen sê hy is deur Chad geïnspireer om dieper in die wêreld van fotografie en redigering te delf.

“Ek wil eendag my eie video’s skiet, maar ook professioneel foto’s neem.”

• Waylin het die geleentheid aangegryp om meer te leer oor die bedryf, fotografie en veral beligting.

“Ek het ’n vyfjaarplan, en wil definitief my loopbaan bevorder.”

Hy beoog om verder by die Cape Peninsula University of Technology (CPUT) te studeer.

• Dominique hou baie van fotografie, en het baie vriende wat reeds in hierdie bedryf is.

Hy het vir ’n aanlynkursus inge­skryf om nog meer te leer oor fotografie en videografie.

Hy werk tans aan musiekvideo’s wat in Oudtshoorn geskiet word.

• Garth Booysen het in Februarie vanjaar aan ’n musiekvideo gewerk, en ook reeds op verskeie rolprentstelle. Hy sê hy wil meer oor die tegniese aspekte van rolprentmaak leer, en het daarom besluit om die kursus by te woon.

“Ek droom daarvan om my eie produksiemaatskappy te begin, en sal beslis gaan waarheen hierdie opwindende bedryf my neem.”

• Kyk gerus na A New Chapter op YouTube.

Log in with your credentials

Forgot your details?